Sal die Vader dit dan ooit doen? Om ons in versoeking te laat kom?
Ons moenie lighartig bid “laat ons nie in versoeking kom nie.” Vir Jesus
is dit die stempel van egtheid van iemand wat regtig God se wil wíl doen.
Jesus wil ons leer om dit te bid, met baie goeie rede. Daarmee besef ons
dat ons so maklik weer toegee aan versoekings, nadat ons so pas vergifnis
ontvang het!

Wat word met versoekings bedoel? Ons moet nie oppervlakkig hieroor
dink nie. Dit is nie net die dwalende oog of die hand wat iets verkeerd doen
nie. Diep in ons hart weet ons dat versoeking nie so maklik onder beheer gekry
en vasgepen word nie. Die beste plek om dit vir ons te verduidelik is waar Jesus
in die woestyn versoek word. Jesus kom van aangesig tot aangesig teen die
versoeker self te staan. In die aangrypende gebeure in Matteus 4 leer ons die
sluheid van die versoeker ken, die Bose.

Ons leer ken ook die versoekings as ‘n aanspraak op die mens se drang om
homself te laat geld, baas te wil wees van homself, en aan die begeertes van
liggaam en gees toe te gee. Versoekings van die Bose bestaan daarin dat ons
van God losgeruk word op soveel maniere! Selfs deur die gawes wat vir ons
belangriker word as die Gewer van die gawes!

My eie hart is die grootste gevaar. Selfgelding. Die drang om myself te bewys.
In ‘n ongeoorloofde verhouding. Of in materiële dinge. Of deur hard te werk om
tot bo te klim. Die Bose weet presies waar my swakste skakel is. Daarom moet
ons baie sensitief vir versoekings wees. Die Bose misbruik selfs die woorde van
God om Jesus te versoek. Ons moet nooit die geslepenheid van die versoeker
onderskat nie. Ons moet ook nie ons vermoë óórskat om versoekings uit eie krag
te weerstaan nie. Daarom bid ons soos Jesus ons hier leer bid. Letterlik enige iets,
ook mooi dinge, kan vir my belangriker raak as God, en tussen my en God kom staan.

Jakobus 4:7 gee hierdie raad: “Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë,
en hy sal van julle af wegvlug.” JM Boice sê: “submit” en “resist”. Moenie net die
duiwel teenstaan nie. Onderwerp jou doelbewus aan God! – “submit”. Dit is dan
‘n doelbewuste daad van oorwinning oor versoeking – “resist”.
Let op: Jesus verslaan die versoeker in die woestyn met die Skrif, die woord van God.
Dit is ook Paulus se raad in Efesiërs 6:17: “Sit verlossing as helm op, en vat die swaard
van die Gees, dit is die woord van God.”

Laat ons daagliks bid dat God ons sal help teen versoekings, om dit te onderskei,
en om in sy krag dit te weerstaan!

Ernest