“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit
verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte
in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar
diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart
ook wees.” – Matteus 6:19-21.

Een van die mens se wortel-sondes is ons drang na besittings. Die Bybel
het heelwat hieroor te sê. Sê Jesus hiér dat ons van ons skatte ontslae
moet raak, of sê Hy dat ons ons prioriteite in orde moet kry? Jesus sê nié
dat rykdom sonde is nie. Jesus waarsku teen die opgaar van skatte. Dit gaan
vir Hom oor die selfsugtige omgaan met die materiële. ‘n Buitensporige
verknogtheid daaraan. Gierigheid en inhaligheid. Ons moet in die huidige
ons middele wat die Here ons gee in belang van God se koninkryk benut.
Ons kan met vrymoedigheid vir die toekoms voorsiening maak, maar met
suiwer motiewe. Die motief moet nie rykdom wees ten koste van God se
koninkryk in jou huidige omstandighede nie. Wanneer jy luuks leef en die
man langs jou is sonder brood, dan moet jy ‘n fyn aanvoeling hê vir wat die
Heilige Gees vir jou sê...

Dit gaan oor die waarde wat jy aan aardse sekuriteit toeken. Soek eers die
koninkryk van God voor jy jou eie belange nastreef. Ons is van nature geneig
om aan aardse dinge verknog te raak. Ons wil besitter en heerser wees van
dit wat ons opbou. Ons word versamelaars en opgaarders van aardse goed.
Die duiwel speel sy troefkaart wanneer hy Jesus versoek: Hy bied vir Jesus
roem en rykdom aan. Hy bied Hom die koninkryk van die aarde aan. Dit is ‘n
versoeking wat die menslike natuur moeilik weerstaan. Jesus het natuurlik
nie toegegee nie! Die Satan se rykdom het ‘n prys: Jy moet hom aanbid en
dien. Jesus antwoord met Matteus 4:10: “Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.”

Jesus sê nie net wat ons nié moet doen nie. Hy gee ook sy redes: Hier op
aarde bied niks werklik sekuriteit nie. Jy moet met die “roes-faktor” rekening
hou. Op aarde staan alles, letterlik alles, in die teken van verweer. Deur erosie,
of diefstal, of inflasie, of wat ookal. Aardse skatte is eenvoudig nie blywend nie!
Jesus bied die ewige beleggings-moontlikheid: Hemelse skatte! Blywend. Met
ewigheidswaarde. Onskatbare, onberekenbare waarde. Dit is die belegging in
liefde. Die offergawe van jouself. Die brood op die water. Die ander wang en
die tweede kilometer. Die pad van versoening. Die uitreik na die medemens
ter wille van die medemens. Die saamloop met die Here.

Daarom, waar jou skat is, sal jou hart ook wees!

Ernest