Ons ken die uitdrukking: “Ek het my hart daarop gesit.”
Dit is vir jou van onskatbare waarde. Waar is jou hart?
Waarop sit jy jou hart? Natuurlik sit jy jou hart op mooi dinge
wat die Here jou gee, soos jou gesin, goeie vriende... Die belangrike
is dat, waarop jy ookal jou hart sit, dit moet nie belangriker as God in
jou lewe raak nie. Hieroor kan ons maklik rasionaliseer. Ons moet nie
onsself bluf nie. God moet waarlik jou alles in jou lewe wees. Hy staan
nie teenoor die kosbare wat Hy vir jou gee nie. As Hy jou alles is, sal dit
wat Hy vir jou gee net nog kosbaarder wees!
Waar jou skat is, daar is jou hart! – Matteus 6:21.
Ons moet deurentyd onthou dat die Here onverdeelde
trou van ons vra teenoor Hom! Hy vra alles!
Matteus 6:24: “...Julle kan nie God en Mammon dien nie.” God gee aan
ons gawes en materiële dinge. Hy gee aan ons oorvloed. Die probleem
kom wanneer dit wat deur God aan ons toevertrou is, die voorwerp van
ons vertroue word. Dan vertrou ek op dit wat God gee, in plaas van op God
self. In plaas daarvan dat ek dit in God se Naam bewaar, eien ek dit nou vir
myself toe. In plaas daarvan dat ek dit beheer, word ek nou deur dit beheer.
In plaas daarvan dat ek dit namens God bestuur, bestuur dit my. Dan kry die
woord Mammon ‘n hoofletter. Dit word ‘n afgod.
My goed het my god geword...
Ons moet kies! God vereis onverdeelde trou en lojaliteit. Hy deel ons nie
met iets of iemand nie. Wanneer jy op twee gedagtes hink, verloor jy
uiteindelik alles! Jesus wil ons nie in ‘n staat van besitloosheid plaas nie.
Wat Jesus doen is om ons ernstig te waarsku teen die siekte van materialisme.
Geniet die gawes wat God tot jou beskikking stel. Hoeveel keer het jy nie al
ervaar dat die Here jou bederf nie! God vertrou jou as sy rentmeester.
Die sonde waaroor dit gaan is nie besít opsigself nie. Die sonde waaroor dit
gaan is om besit te wórd. Dít is die sonde van materialisme.
Augustinus het gesê enige rykdom wat nie van God is nie, is armoede!
Hoe afhanklik leef jy regtig van die Here? Okke Jager sê oor materialisme:
“Daar is mense wat so arm is dat hulle niks anders besit nie, as hulle rykdom.”
Ernest