“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe,
oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle
moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as
klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle
maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle.
Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur
hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? En wat bekommer
julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle
maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie
geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld wat vandag
nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan
nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges.” – Matteus 6:25-30.

Ons moet al vyf hierdie verse saam lees. Dit vorm ‘n eenheid. Ons wil eintlik
by die eerste lees daarvan uitroep: Regtig! Kan dit regtig so wees?! Stel jou
voor jou kind word na ‘n ernstige ongeluk bewusteloos in die hospitaal
opgeneem. Voor teater sê die chirurg: “Ons sal ons bes doen...” Of jy hoor
poste by jou werk gaan binnekort afgeskaf word... Of jy wag in die dokter se
spreekkamer op uitslae van toetse op jou, waaroor jou dokter bekommerd is.
Daar is honderde sulke moontlikhede waaroor ons kan dink: Moet jy jou regtig
nie bekommer nie? is dit moontlik?

Jesus gesels hier met mense soos óns, wat aan die daaglikse lewensdruk uitgelewer
is. Die meeste van hulle is arm mense wat spook om ‘n bord kos op die tafel te sit.
En Jesus sê: Moet julle nie bekommer nie. Makliker gesê as gedoen, sal ons saamstem.
Wat presies bedoel Jesus met hierdie woorde? Ons kan tog nie gevoelloos deur die
lewe nie. Daar kan tog nie géén rede tot kommer oor lewensomstandighede wees nie.
Dit is tog ook nodig om vir die toekoms voorsiening te maak. Kos en klere is tog ook
nie van geen belang nie.

Let mooi op die teksgedeelte: Die heel eerste en belangrike is om op te merk dat Jesus
die feit van menslike kommer as ‘n lewenswerklikheid erken. Jesus praat nie hier oor
goed wat mense nié raak nie. Jesus praat oor goed van lewensbelang. Brood en botter
goed. Jesus verstaan! Maar Jesus wil raad gee. Hy wil as’t ware sê: Luister na my oor
hierdie lewensbelangrike dinge... Jesus se raad wil nie die egtheid en die omvang van
ons lewenskommer belaglik maak nie. Jesus verkoop nie ‘n goedkoop droom nie. Jesus
gebruik hier treffende beelde om met helder kontraste die swaar las van lewenskommer
teenóór die bevryding van God se sorg te stel! Bekommernis kan ons tot raserny dryf.
Jesus wil sê dat ons die genade, en liefde, en sorg van die Vader moet ontdek as ‘n realiteit.
Jesus wil nie oor kommer-vrae net maar vrolike antwoorde gee nie. Jesus wil ons laat fokus
op God die Vader se versorgende liefde. Hy wil ons van nuuts af laat ontdek dat God in
beheer is.

Ons sal elke nuwe dag nuwe vrae van kommer hê. Maar, en dit is belangrik, dit is nie die
antwoorde op my kwelvrae wat berusting bring nie. Dit is die wete dat God nou hier is,
en môre hier sal wees. Dat Hy die Vader is wat my liefhet. Dat Hy sal sorg!

Ernest