“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe,
oor wat julle moet een of drink nie, of oor julle liggame, oor wat
julle moet aantrek nie...” – Matteus 6:25.
Dit is veelseggend dat Jesus sekere dinge noem wanneer Hy na ons
sorge verwys. Eenvoudige lewensmiddele soos kos en klere. Dit is
simbole van ons daaglikse lewensnood. Dit wil alles in die lewe insluit
wat mens tot kommer kan stem. Dit is verteenwoordigend. Dit is ook
veelseggend dat Jesus hierdie gedeelte begin met die woord “daarom”.
“Daarom sê Ek vir julle...” Jesus sluit hier aan by sy vorige uitspraak
waarin Hy mense waarsku om nie aan aardse goed verknog te raak nie.
Verknogtheid aan materiële dinge lei juis tot oormatige kommer.
Hoe meer goed jy het, hoe meer kommer jy jou oor jou goed. Let net
op in die politiek, hoeveel klem gelê word op die materiële wins of
verlies van besluite, dikwels ten koste van die morele welstand van
mense. Jy stem vir die party wat gaan sorg dat jy nie “verloor” nie.
Ons het so baie kommer omdat ons so baie het...
Jesus se uitsprake laat jou soms steier. Lees weer Matteus 6:25-30.
Dit klink of Hy die boom kom uitslaan van ons mooiste beginsels.
Wat Hy sê kan party mense laat dink dit is ‘n lewenshouding van
traak-my-nie-agtigheid, of luiheid, of verantwoordelikheid te ontduik...
Moet ons dan nie voorsiening maak vir die toekoms nie. In die bergrede
leer die Here Jesus ons deurgaans om fyn te onderskei tussen
verantwoordelikheid en eiebelang. Daarom koppel Hy hierdie brood en
botter gedeelte aan die vorige van “julle kan nie God én Mammon dien nie.”
‘n Mens se verknogtheid aan aardse dinge word die oorsaak van jou
kommer oor die toekoms. En later alle kommer oor die toekoms. Of dit
nou gesondheid, verhoudings, of wat ookal is... Jy vertrou God naderhand
nie meer vir die totale toekoms nie. Dit is nie meer nood wat jou leer bid nie,
maar jou eie belange wat jou laat wakker lê. Jou eie belange wat belangriker
is as “soek eers die koninkryk van God...”
Jesus leer ons nie om verantwoordelikheid te ontduik nie, maar wys ons
juis op die grootste verantwoordelikheid: Vertroue op God alléén! Matteus 5:3:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...” Ons moet versigtig
wees dat ons “verantwoordelike voorsorg” nie “selfsugtige obsessie” is nie.
Raak rustig en stil hieroor. Gaan sit afhanklik van die Here by die Here se voete,
en dink weer opnuut oor jou lewe en bekommernisse...sáám met die Here!
Ernest