Om nie besorg te wees nie gaan vir Jesus veral oor die plek wat
die Vader in sy kinders se lewens inneem. Hoe dink jy oor die Vader
in jou lewe? Hoe ver vertrou jy die Vader? Neem jy regtig die Vader
op sy woord?
Mense se geloofskwaliteit kom nogal duidelik aan die lig in noodsituasies.
Baie meer as wanneer dit net goed gaan... Oppervlakkige geloof kom na
vore waar mense “spoedeisende” optrede en gebede reël wanneer hulle
einde ten laaste God se hulp inroep. God kry dadelik meer aandag in nood
as in die normale gang van die lewe. In voorspoed word Hy dikwels vergeet.
Wanneer God dan nie vinnig genoeg reageer nie, word Hy daarvan verdink
dat Hy straf, of nie wil luister nie!
Wat leer Jesus hier in die bergrede in Matteus 6:25-30 oor God ons Vader?
“...julle hemelse Vader sorg...”. Moenie God net gou as noodhulp inroep nie.
Leer om dag vir dag doelbewus uit sy Vaderhand te lewe. Ontvang elke dag
se brood uit sy hand. Eer Hom vir elke goeie gawe. Vertrou Hom met jou hele
lewe. Sê vir Hom dankie vir letterlik alles. Jou nag se rus, jou ontbyt, jou gesin,
jou gesondheid, jou werk, jou motor, jou dak oor jou kop... alles!
Jesus sê in vers 30: “...hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle
kleingelowiges?” Dit het alles met geloof te make. Nie geloof teenoor
verantwoordelikheid nie, maar geloof as ‘n manier van lewe, ‘n lewenswyse
van hoé ek met my verantwoordelikhede omgaan. Jy hou in alles met God se
wil rekening. Praat eerste met die Here voordat jy aardse oplossings soek.
Moet byvoorbeeld nie met jou geld gaan dobbel om so voorsiening vir jou
toekoms te maak nie. Ek gaan ook nie woekerwins maak ten koste van ander
mense om vir myself te “sorg” nie. Ek moet ook die mense rondom my raaksien
en help. Dit gaan tog allereers oor die koninkryk van God...en die ander dinge
sal bygevoeg word.
Wat word in vers 30 bedoel met kleingelowiges?
Kleingelowiges is mense wat bely dat hulle ‘n hemelse Vader het, maar leef
asof hulle weeskinders is. Hulle kommer verdring hulle geloof.
Kleingelowiges is die dissipels wat op die stormsee dreig om van die angs
oorweldig te raak terwyl Jesus rustig by hulle is. Die storm word vir klein-
gelowiges groter as die Here.
Kleingelowiges is mense wat dink dat God slaap terwyl hulle in eie krag
moet voortbeur deur die lewe.
Kleingelowiges is Petrus wat Jesus uit die oog verloor wanneer hy op die see stap
en begin sink omdat die swaartekrag van sy omstandighede hom na onder trek.
Kleingeloof is uiteindelik om oorweldig te raak deur my eie onvermoë en gebreke
in moeilike omstandighede.
Geloof is om te weet dat ek in God se hand is te midde van my omstandighede.
Lees weer die heel eerste paragrafie van hierdie gedeelte en dink daaroor,
en praat met die Vader daaroor. “...hoeveel te meer sal Hy nie vir jou sorg nie...”
Ernest