Moenie besorg wees nie. Moenie bekommer nie.
Moenie kleingelowig wees nie. God sorg! Dit alles sê Jesus
in Matteus 6:25-30. Kleingelowiges gaan onder. Maar daar is
verseker ‘n oplossing vir die kwellinge van die lewe. Jesus se boodskap
is nie ‘n niksdoen, of laat Gods water oor Gods akker loop nie. Geloof is
nie agteroorsit en wag op God nie. Geloof is verseker aksie! Groot aksie!
Daarom sê Jesus: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir
die wil van God...” – Matteus 6:33. Geloof is ywer, en soek en doen. Die
doelwit het net verander van my eie belange na God se belange. Van my
eie begeertes na God se wil! Die perspektief van God se koninkryk is dat
ek Hom “sien” en my naaste sien, en wegkyk van myself. Dink bietjie mooi
daaroor...hoe sentraal staan ons nie in ons eie lewensruimte nie. Alles draai
om my. Die hele wêreld draai om my. My belange, voorkeure, afkeure,
my program, my prioriteite, my tyd, my dag, my lewe...myne. Tot hoe ‘n
mate doen ek wat Jesus gedoen het? Om verantwoordelikheid vir ander
te aanvaar en hulle te versorg.
Om allereers vir die koninkryk van God te beywer is nie maklik nie.
Dit is ‘n pynlike groei in onselfsugtigheid. Dit is ‘n groei téén ons aard, maar
in God se aard. Een van die heel grootste redes vir kommer en angs is selfsug.
Dit lyk asof Jesus ons hier oproep om ons prioriteite in orde te kry volgens God
se wil vir ons. Die belangrikste dinge in ons lewe moet voorrang geniet. Eers die
koninkryk van God en dan ander dinge. Dit is nie ‘n stel reëls nie, maar ‘n groei
saam met die Here onder leiding van die Heilige Gees, oor wat regtig belangrik
is vir God. Daar is nie ‘n stel reëls waarvolgens jy haarfyn getoets word nie.
Hoe kan ons tog mekaar beoordeel of veroordeel oor presies hoe en hoeveel
jy jou vir die koninkryk van God beywer? Die “toets” lê in Jesus se woorde:
“...beywer jou allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...”
Om jou vir die koninkryk van die Here te beywer, is ‘n leefwyse van toewyding
en afhanklikheid. Gee jouself volledig vir die Here. Leef bewustelik uit sy sorg
en genade. Die twaalf mandjies kos wat oorgebly het was God se oorvloedige
“oorskiet” van iemand wat alles vir die Here gegee het, vyf brode en twee vissies.
Ons klou so krampagtig vas aan die stukkie lewe hier op aarde wat ons as “ons eie”
beskou. Myne. En ons bly brandarm van die léwe...
Ernest