“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle
geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet,
sal vir julle gemeet word.” – Matteus 7:1-2.

Die bergrede is praktiese lewe vir God. Oor en oor. Jesus gaan tot die kern
van ‘n lewe vir God. Hy raak die lewe waar ons grondvat met al ons geloof
en belydenis. Hoe dikwels hoor ons nie: “Ek wil nou nie oordeel nie, maar...”
Hoeveel keer méér sê ons dit nie, maar dink ons dit oor iemand. Wat beteken
dit om ‘n ander mens te oordeel? Mag ek geen kritiek hê, of geen kritiek uitspreek,
of glad nie krities dink nie?

In die koninkryk van God word daar na die wil van God gesoek. “...beywer julle
allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...” Dit is die vertrekpunt.
Dit beteken nie dat ek nou die wet gebruik as maatstaf om ander mense te evalueer
nie. Sodra jy op hierdie spoor begin loop, mis jy jou doel as volgeling van die Here.
Ons is nie aangestel om namens die Koning as regter op te tree nie. Ons is volgelinge
van die Koning. Jesus het dit nie teen die “evaluering” van ander nie, maar teen ‘n
uitspraak lewer oor ander. Jesus verwag nie van ons om ander se sonde mis te kyk nie,
maar wil nie hê dat ons hulle veroordeel nie. Ons moet nie vergeet nie, dat ons self
begenadigde sondaars is. Daarom help dit nie ons sien die splinter in die ander se oog,
maar die balk in ons eie oog sien ons nie – vers 3. Wanneer ons dít doen, kom Jesus
self met ‘n woord van oordeel: “Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit...” v 5.

Dit is wat die Fariseërs gedoen het. Hulle het met die wet onder die arm rondgeloop
en ander mense behoorlik laat deurloop. Hulle sleep ‘n vrou wat egbreek gepleeg het
voor Jesus en wil Hom in ‘n hoek vaskeer. “Moses het ons in die wet beveel om sulke
vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” – Joh. 8:4. Hulle wag nou met genoegdoening op
Jesus se antwoord. “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op
haar gooi.” – Joh. 8:7. Hulle het een vir een weggeloop... Jesus het toe vir die vrou gevra:
“Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
Sy antwoord: “Niemand nie, Here.” Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en
moet van nou af nie meer sonde doen nie.” – Joh. 8:10-11.

Let op: Jesus praat nie vir ‘n oomblik sonde goed nie. Maar Hy veroordeel ook nie.
Hy het niks teen die wet nie, maar verafsku dit dat mense die wet misbruik asof hulle
nie sonde het nie. Jesus het dit daarteen dat ons mense veroordeel en die aandag van
ons eie sonde wegneem. Die wet is ‘n spieël, nie ‘n slaanding nie. Die toepassing van
die wet is deur God bedoel om lewe te gee, nie dood te maak nie.

Hoe wil ons hê dat God oor ons sonde moet oordeel? Genadig of ongenaakbaar?
D.A. Carson sê: “God exercises both justice and mercy. Therefor his people must reflect
God’s character by living justly and showing mercy.” Ons moet nie God se rol oorneem nie.
Dirkie Smit sê: “Ons natuurlike instink is om onsself gelukkig te wil maak en ons naaste te
wil verbeter. Die wêreld sou daarby baat as ons onsself wou verbeter en ons naaste
gelukkiger sou maak.”

Moenie oordeel nie. Haal eers die balk uit jou eie oog in jou stryd teen die sonde,
‘n stryd waarin jy geensins verslap nie. Hou op met selfverheffende aftakeling van ander
mense met sonde, soos jy. Moenie oordeel nie...

Ernest