“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is,
maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy
vir jou broer sê: “Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal”,
en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers
die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter
uit jou broer se oog te haal.” Lees weer die eerste ses verse van
Matteus 7.
In die Ou Testament lees ons die aangrypende verhaal van Dawid
se owerspel met Batseba. Lees gerus die hele 2 Samuel 12 hieroor.
Dawid maak hom hier skuldig aan die sondes van egbreuk en moord
en valse getuienis! Hy dink niemand weet dit nie. God het egter geweet.
God weet alles van ons. Die profeet Natan kom namens God met Dawid
praat. Hy doen dit op ‘n besondere manier, met ‘n verhaal, juis om te
beklemtoon hoe skuldig Dawid is. Hy vertel vir die koning van die hartelose
man wat ten spyte van sy eie oorvloed sy buurman se enigste ooilam gesteel
het. Koning Dawid is dadelik ernstig ontstoke hieroor! Só iemand moet
dadelik gestraf word! Maar Natan sê vir koning Dawid: “Jy is die man!”
Wat ‘n verleentheid moes dit nie vir Dawid gewees het nie.
Hoe verontwaardig kan ons nie raak oor ander se sondes nie. Ons wil hê
mense moet betaal vir hulle skuld. Veral mense wat in die media aangekla
word van korrupsie en misdaad. Wat sou die profeet Natan namens God vir
ons kon sê oor onsself en ons skuld wat ons dink niemand van weet nie?
Maar God weet. Ons het ‘n vertonerige verset teen die sonde van ánder,
maar dikwels is dit die rookskerm waaragter ons wegkruip met ons eie skuld
en sonde.
In Matteus 7:3-5 verduidelik Jesus wat Hy bedoel met die splinter en die balk.
Daar is dikwels groot fout met ons perspektiewe en ons oordeel van ander mense.
Ons sien altyd die “balke” in ander se lewens. Ons wil dit nie as splinters erken nie.
Dit, terwyl die balke eintlik in ons eie lewens is. Ons skaal ons eie sondes af en
verontskuldig onsself so maklik. Ons verloor perspektief. Soos Dawid sien ons
dadelik die onreg in die man se lewe wat sy buurman se enigste ooilam steel,
terwyl hy nie insien hoe hy iemand anders se vrou steel nie! Ons moet baie mooi
gaan dink oor wat Jesus hier sê, en besef hoeveel keer is “ék die man”.
Ek is die man met die balk in my eie oog, terwyl ek heeltyd die splinters raaksien
in die oog van my medemens. Kom ons gaan wees net eenvoudig rou-eerlik in ons
belydenis voor die Here ten opsigte van ons eie lewens. Kom ons hou op om ander
mense te veroordeel, en plaas eerder elke keer die vergrootglas op ons eie lewe.
Balke in ons eie oë...
Ernest