Ons kan baie maklik en baie vroom net eenvoudig skuld erken.
Ons doen dit maklik sonder om ware berou daarmee te hê.
Ons erken eintlik net dit is “verkeerd” omdat dit korrek is om
te erken dit is verkeerd, maar ons het nie hartgrondige berou
voor die Here nie. Veral ook ten opsigte van sonde waarin ons
volhard. Dit kan ook sommer vooraf-verontskuldiging raak,
sommer net so. Ons kan maklik vaag bly in sonde belydenis:
“Here, en vergewe my my sonde asseblief...” So terloops.

Die raaksien en uithaal van die balk is nie so maklik nie.
Selfkritiek is moeilik. Ons kan dit net sinvol regkry deur die Here
se genade. Selfkritiek is ook gevaarlik. Dit kan lei tot selfbejammering,
en selfs selfveragting. Hier sit ek nou met my balk in my oog. Ek is
onherstelbaar gebreklik. Hierdie sonde is nou my las is my lewe. Dit is
nou maar wie ek is. ‘n Kort van draad mens wat maklik kwaad word en
ongeduldig is. Dit is nou maar wie en hoe ek is. Dit is nou nie heeltemal
reg nie, maar dit is ek. Baie mense redeneer so oor dinge wat verkeerd is
in hul lewe. Hulle laat nie toe dat die Heilige Gees hul karakter verander
nie. Jy sal met splinters en balke in jou lewe sukkel totdat jy die regte
perspektief kry. Jy sal blind bly vir dit wat in jou lewe moet verander,
en jy sal ander onbeskaamd bly veroordeel, oor dit wat in húlle lewe
verkeerd is.

Wat is die regte perspektief?
Terug na die begin van die bergrede: “Geseënd is dié wat weet hoe
afhanklik hulle van God is...” – Mat. 5:3. En ook Matteus 6:33:
“Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...”
Die regte perspektief is dié van God se koninkryk. Ons moet na onsself
en ander mense kyk met die vraag: “Waar en hoe pas ons in God se
koninkryk plan in? Hoe beantwoord ons lewens regtig aan God se
bedoeling met ons?” Hiermee stel ons onsself bloot aan God se wet van
liefde en aan Jesus se eis om dissipelskap. Dit bring ons weer by die punt
van selfverloëning. Wat ander mense sê of dink is nie ons maatstaf nie.
Ook nie ons eie oordele nie. God se wil is ons maatstaf. Ons moet leer
om deur die oë van ons Koning te kyk. Ons moet die Here in afhanklikheid
vra om ons te help met die regte perspektief.

Ernest