Jesus sluit die gedeelte oor oordeel af met die woorde:
“...Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal
omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor
die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.” –
lees weer die eerste ses verse van Matteus 7.
Wat bedoel Jesus met bogenoemde woorde? Wie is die honde?
Wat is so heilig? Nog belangriker: Wie moet in hiérdie geval die
beoordeling doen? Jesus het dan so pas gesê ons moenie oordeel nie!
Die “honde” en die “varke” waarna Jesus hier verwys dui op mense wat
om een of ander rede nie die evangelie werd is nie. Dit laat jou steier om
daaraan te dink dat daar mense is wat nie die evangelie werd is nie!
En dan is dit Jesus wat dit sê! Dit is egter nie lynreg in teenoor die eerste
vyf verse nie. In die eerste vyf verse waarsku Jesus ons teen die liefdelose
veroordeling van ons naaste. Nou, in vers ses, waarsku Hy ons teen ‘n
lamsakkige geringskatting van die evangelie. In beide gevalle rig Jesus Hom
tot dieselfde mense. Dieselfde verwaande mens wat hom enersyds bo ander
verhef, kan ook andersyds totaal te verdraagsaam wees wanneer die eer van
God werklik op die spel is. Dit gaan hier om die eer van God! Daarom praat
Jesus van die wat “heilig” is.
Die evangelie is nooit goedkoop nie. Dit het God die lewe van sy Seun gekos.
Alhoewel God die wêreld liefhet, is sy liefde nie goedkoop nie. Ons moet
weet die evangelie wat ons uitdra is baie kosbaar.
Jesus gee self aan sy dissipel groep ‘n ander perspektief hieroor wanneer Hy
hulle na die dorpe en stede toe stuur: “As iemand julle nie ontvang nie en nie
na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die
stof van julle voete af. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die
gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.” –
Matteus 10:14-15.
Hoe weet ons wanneer ons met die honde en die varke te doen het?
Daarvoor sal ons baie goed na die stem van die Here moet luister en besef
dat dit nie om ons eie eer gaan nie. Dit mag niks met ons persoonlike
voorkeure te doen hê nie. Die eer van God bly bo alles die norm. Die oordeel
oor ‘n ander mens berus nooit by ons nie. Selfs al laster iemand God as jy met
hom of haar praat, kan jy steeds met jou lewe en gebede daardie persoon na
God bly dra. Bid vir die gees van onderskeiding wanneer die evangelie belaster
word terwyl jy dit verkondig. As God se eer deurlopend aangetas word,
hou op om die pêrels voor die varke te gooi. Moenie veroordeel nie.
Laat dit aan God oor...
Ernest