Matteus 7:7-11 is merkwaardige woorde van Jesus oor
gebedsverhoring: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek en
julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen
wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry, en vir elkeen wat klop,
sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip
gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is,
dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer
sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit
van Hom vra?”
Gebed, en God se getrouheid en sorg, is deel van die hoofstroom
van die bergrede. Die bergrede is praktiese Christenskap op sy beste
beskryf. Deur Jesus self. Maar ons weet dat hierdie praktiese Christenskap
nie vir ons maklik is nie, vanweë ons eie natuur. Ons het in bogenoemde
verse te doen met ‘n voortsetting van Jesus se voorskrifte oor gebed,
en hoe belangrik gebed is om prakties as Christen te leef. Die krag en
noodsaaklikheid van gebed vir die uitlewing van ons Christenskap is
eenvoudig onmisbaar. Jesus gee ook in bogenoemde verse ‘n duidelike
beeld van God die Vader se troue liefde wat juis in die beantwoording
van gebed geopenbaar word. Ons moet bid dat die Vader ons toerus
om dit te kan doen wat Jesus in die bergrede sê, oor hoé ons moet leef
as kinders van God.
Dit gaan dus in bogenoemde verse oor die krag en wonder van gebed,
oor die getrouheid van die Vader, en oor die erkenning van ons eie
onvermoë en absolute afhanklikheid van die Here. Dat Jesus twee keer
in die bergrede oor gebed praat is regtig veelseggend. Jesus wil beklemtoon
dat die eise van dissipelskap ten nouste saamhang met ‘n lewende en
volhardende gebedslewe. Dit is asof Jesus hier teen die einde van die
bergrede wil sê ons moet nou opstaan en verder loop, en gaan uitleef wat
dit beteken om ‘n volgeling van Hom te wees. En die heel eerste stap voor
ons opstaan en verder gaan, is gebed. Ons moenie te haastig raak om hierdie
dinge te gaan doen nie. Ons kan nie in eie krag nie. Raak eers rustig by God en
voor God. Spring reg weg.
Ernest