Leef absoluut afhanklik van God. Want dit is wat ons is:
Absoluut afhanklik van God!
Wanneer Jesus in Matteus 7:7-11 oor gebed praat, dan wil Hy sê
‘n dissipel op sy knieë, is ‘n dissipel op sy voete. ‘n Dissipel op sy knieë
verloor nie maklik sy voetwerk nie. Jy bly veerkragtig as volgeling van
die Here, want jy leef in sy krag! Sonder gebed kan ons eenvoudig nie as
kinders van die Here leef nie. Dit is ook nie gebed nét op jou knieë nie.
As jy net op jou knieë bid, bid jy te min! Dit is ‘n leefwyse van gebed saam
met die Here. Gebed is nie ‘n vroom gebaar van eerbied nie, of ‘n nood-
gedwonge aanklop om hulp by die almagtige God nie, of werklikheids-
ontvlugting nie.

Gebed is die opregte erkenning van my afhanklikheid van God. Dit is
onontbeerlike kommunikasie met God. Dit is noodsaaklike toerusting
vir ‘n lewe van gehoorsaamheid. In gebed kry ons perspektief oor die
grootheid van God aan die een kant, en ons eie onvermoë aan die ander
kant. Gebed plaas ons in die realiteit van God se ryk.

Jesus gebruik woorde soos “vra”, “soek”, en “klop”. Al drie hierdie woorde
dui op volharding en inspanning. In die Grieks dui die woorde wat gebruik
word op deurlopende, voortgesette, volhardende aksie. Jy lewer nie net
gou jou “versoek” lysie by God af en daar gaan jy nie. Dit is ‘n volhardende
aksie van inspanning. Ons bly vraend by God. Ons bly soekend by God. Ons
bly klop aan God se deur. Ons bly oomblik vir oomblik van God se genade
afhanklik. “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...”
So het Jesus die bergrede begin!

Treffend is Jesus se belofte van verhoring! Jesus stel dit as ‘n feit.
Bidders word verhoor. Soekers vind. Vir die wat klop, word oopgemaak.
Maar juis hierdie onvoorwaardelike belofte van Jesus gee ons probleme...
Wat dan van die lang lys van gebeds-teleurstellings? Ons moet hierdie gedeelte
in sy konteks lees, soos ons altyd met die Woord van God moet doen. Ons kan
nie verse uit verband haal en daarmee loop en smous nie. Hierdie verse is deel
van Jesus se betoog en gedagtegang. Soos hierdie deel van gebed, deel is van
Jesus se betoog oor die koninkryk van God, so is hierdie woorde van belofte
deel van sy gedagtegang oor toewyding en die fokus op God se wil.
Hierdie beloftes van Jesus is nie ‘n lokaas om mense goedkoop geïnteresseerd
te kry in die koninkryk van God nie.

Die beloftes van “...vir julle sal gegee word...”, en “...julle sal kry...”, en “...vir julle
sal oopgemaak word...”, is beloftes vir dissipels van Jesus wat alreeds geleer het
om te vra volgens die wil van God! Dit is beloftes vir mense wat nie opgestaan het
en weggeloop het nie, toe hulle gehoor het hulle moet ‘n tweede kilometer saamloop,
en ook die bokleed gee, en die ander wang draai, en ook die vyand liefhê... die belofte
is vir volgelinge van Jesus wat dit ernstig en lewens-veranderend bedoel met die Koning
van sy koninkryk.

Vir hierdie volgelinge van Jesus, is daar die belofte dat God sonder twyfel en sonder
uitsondering antwoord op gebed. Al is dit nie soos ons dit sou wou hê nie. Dink maar
aan Jesus se gebed is Getsemane. Jesus se omstandighede het na Getsemane net mooi
niks verander nie. Maar in Jesus se worsteling met die Vader het sy houding oor sy
omstandighede verander. God het sy wil laat geskied. Hy is die hemelse Vader.
Om sy antwoorde te verstaan moet ek weet van sy Vaderhart... soos Jesus.
Ek leer ken God se Vader-hart in gebed.

Ernest