In Matteus 7:7-11 praat Jesus in die bergrede oor gebedsverhoring.
Die sleutel tot die verstaan van gebedsverhoring lê in verse 9-11.
Lees dit weer ‘n keer! Die verstaan van gebedsverhoring lê in woorde
soos “brode” en “klippe” en “slegte mense” en ‘n “goeie God”.
Dit is normaal vir ‘n aardse vader om vir sy kind goeie dinge te gee.
En dit ten spyte daarvan dat ‘n aardse vader maar ‘n sondaar-mens is.
Dikwels ook ‘n slegte mens is. Hoeveel te meer sal God wat volmaak goed
is dan nie vir sy kinders die heel beste wil gee nie!? Die slotsom is:
God gee inderdaad elke keer vir sy kinders wat vir hulle die beste is.
God het die groot geheel in sig. Soos met Jesus in Getsemane.
God antwoord gebed met sý wil in gedagte. Wat ons dink die beste vir
ons is, het dikwels maar net met ons eie gerief of selfsug te doen.
Daarom worstel ons met pyn, want dit is verseker nie lekker nie. Die goeie
Vader weet beter as ons wat ons regtig nodig het, en dikwels is dit ons pyn
wat ons genees van groter pyn... Ons is dikwels soos ‘n kind wat deurlopend
bid vir lekkers, maar nie besef wat ‘n groot gevaar ‘n oormaat suiker op die
lange duur inhou nie. God verstaan ons. God verstaan waarvoor ons bid.
Maar God is lief vir ons en doen die beste vir ons. Sy antwoord is gevul met
liefde, sorg en beskerming. Daar is baie dinge wat ons nooit sal verstaan nie.
Ons wil dit uit eie belewenis en konteks verklaar. Dinge wat ons dink reg is,
en waarvoor ons bid, omdat ons glo dat dit reg is, en tog gebeur dit nie
waarvoor ons opreg vra nie. Deur die eeue worstel die mens hiermee.
Word die kern van ons verhouding met God nie in gebedsvertroue gevind nie?
Dit is die vraag. Vertroue is wanneer die kind vir sy pa sê: “Ek ken my pa. Hy sal
die beste weet hoe en wat.” Vertroue is om aan ons Vader-God oor te laat.
“Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom” – Psalm 37:5.
Gebedsvertroue beteken om loshande te leef! Los van al die krukke waaraan
ons vashou, en waarvan ons self-gerigte gebede dikwels óók een is.
Gebedsvertroue is totale afhanklikheid van die Vader wat alles weet en
verseker sorg! Gebed is dan nie net nog ‘n kruk wat ek wil gebruik om my
staande moet hou nie.
Om te kan bid soos Jesus in Matteus 7:7-11 ons leer, is 3 dinge baie belangrik:
Ons moet God ons Vader ken.
Ons moet voluit en bo alles vir die koninkryk van God leef.
Ons moet in Jesus se voetspore stap en groei, en meer en meer sy beeld vertoon.
Dan kan ons bid soos 1 Johannes 5:14-15 dit beskryf:
“En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor
as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor
as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”
Dít is hoe volgelinge van Jesus bid.
Ernest