Jesus begelei ons so prakties oor praktiese Christenskap,
dat ons nie met allerhande redenasies daaruit kan kom nie.
Soos byvoorbeeld die vraag: Wie is my naaste? Nee. Jesus maak
dit so duidelik wát dit prakties beteken om Hom te volg, dat ons
eenvoudig net besef hoeveel oorgawe en toewyding Hy vra.
Die bergrede is treffend reguit. Jesus draai nie doekies om nie,
met eerbied gesê. Wat ‘n uitdaging om Hom te volg, en tegelyk
ook só duidelik hoé om Hom te volg!

Kyk net na die goue reël van die lewe: “Alles wat julle wil hê dat
die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.
Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en profete.” – Matteus 7:12.
Matteus wil hier aan die einde van die bergrede, nadat Jesus klaar sy
voorskrifte oor liefde vir God en die naaste gegee het, dit alles afrond
met sekerlik een van Jesus se sterkste, treffendste uitsprake oor die
dissipel se diepste ingesteldheid teenoor sy naaste! In die lig van al die
voorafgaande, en voortvloeiend uit al die voorafgaande, het die dissipel
van Jesus geen keuse oor hoe om vir die Here te leef nie! Die liefde moet
op presies hierdie wyse tot uitdrukking kom! Die toets vir dissipelskap,
om ‘n volgeling van Jesus te wees, lê nie in mooi woorde nie, ook nie in
vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in die daaglikse doen
van die regte dinge. Na alles wat Jesus gesê het oor die regte gesindheid,
en die regte lewenswyse, moet die volgeling van Jesus tot aksie oorgaan.
Geloof word gedoen!

Die goue reël wat Jesus in Matteus 7:12 stel, word dikwels ook in sy
negatiewe vorm gebruik: “Moenie aan ander doen wat jy nié wil hê hulle
aan jou moet doen nie.” Jesus se positiewe uitspraak, hierteenoor, is gelaai
met aksie! Jesus daag ons uit! Dit gaan nie by ‘n dissipel van die Here daaroor
om net uit die moeilikheid te bly nie. ‘n Volgeling van Jesus is iemand wat
regmaak wat verkeerd is. Wat gaan doen wat reg is! Dit gaan ook nie om die
doen aan ander sodat hulle aan jou met rente kan terugdoen nie. Dit gaan nié
oor jou nie! Dit is ‘n doen aan ander ter wille van die welsyn van ander!
Paulus stel dit in Efesiërs 5:1-2 so: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle
liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook
liefgehad het en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het...”

Jesus motiveer die bogenoemde met: “...Dit is tog waarop dit neerkom in
die wet en die profete.” Dit wil sê, die hele geopenbaarde wil van God.
Só wil God dat ons moet lewe. Só leef mense van die koninkryk van God.
Só het Jesus dit voorgelééf! Dit vra offers van tyd, en krag, en goed!
Jy belê nie net goeie bedoelings in God se ryk nie. Of ‘n mooi getuienis
van praat alleen nie. Of net jou bydraes nie. Dink weer hieroor: jou tyd,
krag, en goed! Jou Koning vra ‘n doen-lewe wat alles insluit!
In God se koninkryk is jou naaste jou besigheid.
Ons is medewerkers van Jesus! Medewerkers!

Ernest