“Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here”, sal in die koninkryk
van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my
Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: “Here,
Here, het ons dan nie in U Naam gepreek nie, deur U Naam duiwels
uitgedryf en deur U Naam baie wonders gedoen nie?” Dan sal Ek
openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af,
julle wat die wet van God oortree.” – Matteus 7:21-23.

Baie mense beskou hierdie deurdringende woorde van die Here as hard.
Hierdie is inderdaad nie “harde” woorde nie, maar dringende waarskuwing
teen valse leraars, in die konteks, en ook teen valse dissipelskap! Jesus praat
oor valse profete terwyl Hy sy dissipels in die oë kyk! Matteus 7:21 bly ons
“koue rillings gee”. Ons moet nie goedkoop omgaan met God se genade nie.
Die bergrede beklemtoon dat genade met werke beantwoord moet word.

Wie is die mense wat “Here, Here” sê? Dit is tog nie die wilde heidendom nie.
Of die ateïste van ons tyd nie. Let op dat Johannes in sy briewe waarsku teen
vals profete, antichriste wat “uit ons geledere” kom. – 1 Joh. 2:18. Die gevaar
is nie net van buite, of eie geledere nie, maar ook vanuit my eie hart! Doen ék
die wil van God? Godsdiens is nie die waarborg vir redding nie. Jesus maak of
Hy die dinge nie eers raaksien wat in die godsdiens beoefen word sonder ‘n
hart vir die evangelie nie. Godsdiens opsigself is nie die probleem nie.

Godsdiens is die manier waarop ons die Here dien. Die manier waarop ons aan
God se wil gehoorsaam is. Die probleem lê nie in die feit dat mense godsdiens
beoefen nie. Die probleem lê in die feit dat die middele waarmee die mense
die Here moet dien, vir hulle ‘n doel opsigself word. Die doen van “groot dinge”
in die Naam van die Here, word belangriker as gehoorsaamheid aan die Here self,
in die klein dingetjies. Mense begin in die Naam van die Here die kalklig op hulleself
laat val.

Jesus stuur nie sy dissipels om hulle redding te gaan verdien nie, maar om hulle
redding te gaan bewys, om dit te gaan verkondig, om dit te gaan uitleef. Die bergrede
dui nie die weg na saligheid aan nie, maar vertel ons hoe lyk die lewe van iemand wat
gered is, in die praktyk van die lewe. Die pad van God se koninkryk is ‘n doen-pad!
Hoeveel offer ek, of tot hoe ‘n mate is ek selfgesentreerd?

Ernest