1 Petrus 5:7: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan
die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die
tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom,
want Hy sorg vir julle.” Let op die woorde:
“...want Hy sorg vir julle.” Kinders van die Here is vergewe,
met God versoen, en geregverdig in Jesus Christus. Dit beteken
egter nie dat krisisse ons nie gaan tref nie. Krisisse is nou eenmaal
deel van die lewe. Wat is die verskil, ten opsigte van ‘n kind van die
Here en ander mense, in terme van die hantering van krisisse in die
lewe? Die verskil is God! Jy word deur God versorg! Hy belowe om
elke oomblik van jou lewe by jou te wees. Jy kan in elke krisis situasie
altyd weet dat God teenwoordig is as die Vader wat jou versorg.
Hy bewaar jou ook. 2 Kor. 1:3 sê Hy is die Vader wat Hom oor jou ontferm.
Die Woord van God beloof nie ‘n gemaklike lewe sonder krisis nie. Petrus
waarsku juis teen gevaar. Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu...
Die Here waarborg nêrens ‘n probleem vrye reis nie. Hy waarborg net ‘n
veilige aankoms. Intussen sal Hy ons versorg en bewaar in elke krisis.
Selfs in die dood.
Hoe weet ons verder dat God regtig vir ons sorg? 2 Kor. 1:9 is belangrik.
Dit praat van “God wat die dooies opwek tot die lewe.” God het die dood
vernietig. Jesus het die oorwinning behaal. God is die God van die oneindig
onmoontlike! Geen situasie of krisis is ooit so dood dat God dit nie lewendig
kan maak nie. Omdat ons Versorger almagtig is, leef ons met alle hoop in
elke situasie! Hierdie Versorger wil ons ook leer en laat groei in elke situasie.
Wat wil Hy ons leer? In 2 Kor. 1:9b staan daar: “Maar dit het gebeur, sodat
ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God.” Dit, juis dít, is wat God
ons wil leer! Krisis tyd is leer tyd!
Iemand het eenkeer gesê ons ken Jesus slegter as wat ons dink.
In elke krisis leer ken ons Hom net beter en beter! In die grootste krisis
leer ken jy God soos nog nooit tevore nie. Jy maak regtig saak vir God!
Ernest