Jy is veilig by God. God is by jou! Jy kan dit weet en daaruit leef
dat jy veilig is. Psalm 91 word dikwels deur gelowiges gebruik om
hulle sekerheid hiervan te beklemtoon. Dit sê oor God: “Hy sal sy
engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle
hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”
– Psalm 91:11-12. Boonop bly die Heilige Gees in jou! Om onveilig te
voel het dikwels in ons lewe te doen met ‘n gebrek aan vertroue in God.

Om doelbewus veilig by God te lewe beteken baie belangrike dinge:

Jy sal net betroubare bronne opsoek en daarop reageer. Die betroubaarste
bron vir die lewe is die Bybel. Dit is God se woorde vir jou lewe! God is ons
redder. Vertrou op Hom. Dan sal jy nie bang wees nie. wat is vir jou die
belangrikste bron vir jou lewe? Hoeveel tyd spandeer jy op sosiale media
ter wille van jou lewe, en hoeveel tyd in die woorde van God vir jou lewe?

Gee die illusie op dat jy in beheer is. Jy dink jy is in beheer. Maar jy is nie.
Niemand is in beheer nie. Net God is regtig in beheer. Vertrou daarom die
Heilige Gees, en nié joú sogenaamde beheer nie. Jy moet nooit in beheer
wees nie. God laat die son opkom en sak. Hy laat jou hart klop. God laat jou
asem haal. God hou jou veilig.

Plaas vertroue in God in die middelpunt van jou geloof. Leef so dat vertroue
in God deur jou lewe bevestig word. Al dink jy alles loop verkeerd moet en
kan jy weet God is steeds in beheer. Jy hoef nie in te gryp nie. Vertrou Hom!

Vertroue en gehoorsaamheid is die twee kante van dieselfde munt. Ons bewys
ons vertroue in God deur gehoorsaam te wees aan God. Gehoorsaamheid is
om te doen wat God van jou vra, en die res aan Hom oor te laat.

Vertrou dat God almagtig is. God bly God, al gebeur wat in hierdie lewe.
Niks sal ooit vir Hom onmoontlik wees nie. Verseker nie!

God gee vir jou om en weet wat in jou lewe aangaan. Dit laat jou elke dag
voor God bely: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer
beteken as U nie” – Psalm 73:25. Niemand gee vir jou om soos God nie!

Ander sal op jou kan vertrou vanweë jou vertroue op God. Jou ja sal ja wees,
en jou nee sal nee wees. Daarin sal jy eerlik wees met jou tekortkominge en
beperkings. Dit sal jou in waarheid laat leef, en die waarheid laat uitleef.
Jesus sal vir jou die weg en die waarheid en die lewe wees!

Ernest