Ons is gered deur die wonde van Christus! Wat beteken dit?
Christus se lyding, kruis, dood, en opstanding het ons nuwe
lewe geword! Ware redding is nie iets wat óns kon doen nie.
Dit het deur God se genade met ons gebeur. In Christus,
deur die Gees.
Wanneer iemand besig is om te verdrink moet die lewensredder
dikwels so ‘n persoon buite aksie stel, sodat die persoon ophou
spartel, anders sal beide ondergaan en verdrink.
Die groot Lewensredder, Jesus Christus, red ons van ons
spartelende verdrinking. Dit is nie die dáád van jóú geloof wat jou red nie,
maar die inhoud van jou geloof, naamlik: Jesus!...die gekruisigde en
opgestane Here! Romeine 10:9 bevestig dit wanneer Paulus die inhoud
van ons geloof verduidelik: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is,
en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”
Ware redding sê jou verlede is verby. Jou nuwe toekoms het begin. Jou hede is
‘n aksie-avontuur saam met God, waarvan God in beheer is! Ware redding sê
ook vir jou dat nie net jou toekoms nuut is nie, maar dat jy ook ‘n nuwe vergeefde
verlede het!
In 1 Petrus 2:24 roep Petrus ons op om as gevolg van ons redding nou in
gehoorsaamheid te gaan leef. Petrus sê dit vir sy lesers terwyl hulle in vervolging leef.
Baie swaar kry. Gehoorsaamheid aan God is om eenvoudig, bó menslike verwagting,
ánders te leef in jou omstandighede! Die grootste geskenk wat jy ooit kan ontvang is
die geskenk van nuwe lewe deur die wonde van Christus.
Leef hierdie nuwe lewe met opregte dankbaarheid! Vier jou nuwe toekoms,
jou nuwe vergeefde verlede, en jou huidige daaglikse lewe as ‘n aksie-avontuur
saam met God wat in beheer is!
Ernest