Ons is bo-menslik geseënd. Ons is God-geseënd!
Paulus kan as’t ware nie hieroor uitgepraat raak nie,
en in sy opgewondenheid ryg hy die een Goddelike seën
na die ander aanmekaar in Efesiërs 1:3-14. Hierdie verse is gevul
met al die seëninge wat daar in die hemel is, waarmee God ons seën!
Lees eers Efesiërs 1:3-14 voordat jy verder lees.

Ons kan hierdie seëninge soos volg uiteensit:
Vers 4: Jy is deur God gekies. Jy is God se geliefde. Dit is nie iets wat ons
kan verklaar nie. Dit lê bo ons begrip om te dink dat God ons kan kies.
Ons wat ons rug op God gedraai het. Selfs vyande van God was! Jy kan
net op jou knieë gaan en dankie sê.
Vers 5: Jy is op grond van Jesus se versoeningswerk deur God as sy kind
aangeneem. Ons kan Hom Abba Vader noem. Ons is sy kinders. Familie!
Vers 7: Jy is gered en vergewe! Elke dag is ‘n nuwe begin saam met die
Here. Lééf!...saam met Hom.
Vers 9: Jy sit aan die voete van die Heerser van die heelal, op sy skoot
as’t ware, en jy het insig in jou Vader se plan vir die wêreld. God hou die
hele wêreld in sy hand!
Verse 11 en 12: Jy is God se eiendom! Jy behoort aan Hom! Jy is ‘n burger
van die hemel!
Vers 14: Jy is erfgenaam van God. Jy het ook die waarborg daarvan ontvang!
Die Heilige Gees wat in jou woon! Hy is die waarborg dat jy ryklik geseën is.

Jy is ook geseën met die moontlikheid om deurgaans te verander. Jy word
deur die Gees verander, op ‘n deurlopende basis, om meer en meer Jesus se
beeld te vertoon – 2 Kor. 3:18. Wat ‘n seën! Dat ons kan verander! Iemand
wat nie wil verander nie, is nie gehoorsaam aan die Heilige Gees wat jou
deurlopend wil laat groei nie! Verandering is een van die wonderlikste
eienskappe van die mens en dui op lewe en groei.
Jy is geseën met die ware lewe! Psalm 139 sê dat ons op ‘n wonderbaarlike
manier geskep is. En nou in Christus geseën met al die seëninge van die Gees
wat daar in die hemel is.

Wat is die gevolg van al die seëninge waarmee ons geseën is? Wat moet in
ons lewe gebeur? Dit is presies daarmee wat Paulus hierdie treffende deel
begin in vers 3: “Aan God...kom al die lof toe.” Dan gaan Paulus verder in
vers 12: “Daarom moet ons...die grootheid van God prys.” En ook vers 14:
“Daarom moet ons sy grootheid prys.” Dit is die betekenis van ons lewe op
aarde. Om God te eer en sy grootheid te prys met ons lewe!

Rabbi Abraham Heschel het gesê: “Just to be is a blessing. Just to live is holy.”
Gaan leef dit prakties uit met al die seëninge van die Gees wat daar in die
hemel is en waarmee jý geseën is!
Dietrich Bonhoeffer het treffend hieroor gesê: “’n Seën is die sigbare,
waarneembare, effektiewe nabyheid van God. Daarom moet ‘n seën oorgedra
word – dit kommunikeer opsigself na ander mense. Om ‘n seën vir ander te wees,
is die grootste taak van alles. Nie net ‘n hulp. Of ‘n metgesel of ‘n vriend nie,
maar ‘n seën.”

Ernest