Kinders van God is skatryk, want God is die bron van rykdom.
Daar is egter ‘n verskil tussen aardse rykdom en geestelike rykdom.
Jy kan in aardse terme skatryk wees, maar tog geestelik bankrot wees.
Wat is dit wat ons in God se oë skatryk maak, al het ons nie ‘n sent in
die bank nie? Dit is die koninkryk van God. Die koninkryk van die hemel
is die kosbaarste skat wat jy ooit kan besit. Lees Matteus 13:44-45.

In die antieke tye was daar banke, maar gewone mense kon dit nie
gebruik nie. Daarom het mense dikwels hulle kosbaarste besittings begrawe.
Bogenoemde gelykenis van Matteus 13:44 wil beklemtoon dat die man die
skat in sy daaglikse werk gevind het. God is nie net in heilige plekke te vind nie,
maar regtig oral.

Maar hoe ontdek ons skatte in die daaglikse gejaag van die lewe?
Die belangrike is dat ons moet leef met die verwagting dat ons in enige oomblik
op enige plek die skat van die koninkryk van God raakloop. Daarom moet ons leef
met die verwagting en behoefte om God oral te vind, én die behoefte om bý Hom
te wees. ontmoet God in die alledaagse. Dit is waar Hy is! Fokus op Hom.

Verder: Aanbid God en wees bo álles lief vir God! Dit beteken dat jy God in alles
en by almal eerste stel. Bewustelik. Loof ook vir God vir Wie Hy is, oral!
Leef doelbewus nader en nader aan God. Dit is om meer en meer soos Jesus te leef.
Leef “a mind of Christ” eerder as “a mind of our own”.
Wees bo alles lief vir God. Let daarop om meer lief te wees vir God, as selfs die
dinge van God.

Bogenoemde gelykenis van Matteus 13:44 leer vir ons ‘n tweede ding. Lees weer die
gelykenis van vers 44.
Die gelykenis leer dat enige opoffering om die ware skat van God te bekom die moeite
werd is. Die koninkryk van God vra offer. Wel die eerste en grootste offer is: Jy moet
jouself prysgee om die ware lewe te kry. Die eerste wat moet sterf is jou ou mens,
jou verkeerde waardes en selfsugtige prioriteite wat op jouself gerig is.

Die volgende gelykenis van vers 45 vertel dat daar niks kosbaarder is as die koninkryk
van God nie. Pêrels is beskou as die kosbaarste wat jy kon besit! As kind van die Here
is jy skatryk! God se genade gee rykdom. Johannes 1:16 en Romeine 5:20 sê dat ons
genade op genade ontvang het, ten spyte van die sonde in ons lewe. Wanneer ons
die seëninge tel wat ons elke dag ontvang, besef ons hoe skatryk ons is. Wanneer ons
ook fokus op die vraag wáárom ons leef, en nie net hoé ons leef nie, dan ontdek ons
ware rykdom.

Leef uit die realiteit van die rykdom in Christus, wat jy as kind van God ontvang het,
deur die Heilige Gees!

Ernest