“Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn,
sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”
– Kol. 3:4.
“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier
is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan
die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons
uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
– 2 Kor. 3:18.
“Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus
gelewe het.” – 1 Joh. 2:6.
Ons vind baie vraelyste in tydskrifte wat jou sogenaamd wil help om
jou persoonlikheid vas te stel. Na die berekening van jou punte sien jy
jou uitslag: Jy is geliefd. Of jy is gebalanseerd. Of jy het dringend raad
nodig. Dit is maar baie oppervlakkig...
As ons ‘n vraelys sou moes invul om vas te stel in hoe ‘n mate ons soos
Jesus leef, watter punt sou ons kry? As iemand, wat glad nie vir Jesus ken
nie, ons sou vra om vir hom te wys hoé Jesus lyk...wat sou ons wys?
Bogenoemde drie Skrifgedeeltes wil sê dat ons as’t ware onsself aan die
persoon moet wys!
Ons deel in sy heerlikheid. Ons weerspieël die heerlikheid van die Here.
Ons word al hoe meer deur die Gees verander om aan die beeld van
Christus gelyk te word. Ons behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.
Ons moet die voorbeelde van Jesus hier op aarde wees. Deur ons optrede,
deur ons lewe, moet mense Jesus sien.
Mense het destyds vir Pascal, die groot filosoof en wiskundige gesê:
“As God ons meer geloof gee, sal ons minder sondig.” Pascal het hulle
geantwoord: “As julle minder gesondig het, sou julle lankal meer geloof
gehad het.”
Ons leef soos Jesus geleef het, nié sodát ons kinders van God kan wees nie.
Ons ís ‘n voorbeeld vir ander, nié sodát Christus ons lewe kan word nie. Maar,
omdát Hy ons lewe ís! Ons word al hoe meer verander om soos die beeld van
Jesus te lyk, nié sodat ons hemel toe kan gaan nie, maar omdát ons hemel toe
gaan.
Watter voorbeeld leef ons uit? Tot watter mate sien ander mense Jesus in ons lewe?
Leef soos Jesus gelewe het! Laat toe dat die Gees jou al hoe meer verander, om meer
en meer aan die beeld van Jesus gelyk te wees!
Moeder Teresa het gesê:
“Just allow people to see Jesus in you, to see how you pray, to see how you can lead
a committed life, to see how you deal with your family, to see how you imitate Jesus.
Then you can look them in the eye and say: “This is the way”.
You speak from experience.”
Leef wat jy glo! Leef in Wie jy glo!
Ernest