Dikwels verloor bekende tekste of boodskappe hulle betekenis vir ons
omdat ons dink ons “ken” dit. Matteus 5:13 is so ‘n teks, so ‘n boodskap:
“Julle is die sout vir die aarde...” – Matteus 5:13. The Message vertaal dit so:
“You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavours of this earth.
If you loose your saltiness, how will people taste godliness?”

Let op: Jy is... Jy ís die sout vir die aarde. Jy moet ‘n verskil maak. Die simbool van
sout was vir die vroeë kerk so belangrik dat wanneer iemand gedoop is, ‘n knippie
sout op die tong gesit is! Nie net gedoop in Jesus nie, maar ook gereinig in Jesus.
Sout geur nie net nie, sout reinig ook! As nuwe mense in Christus moet ons nou
soos Jesus gaan lewe, geur gee, reinig... Ons verstaan nie altyd die diepte van hierdie
beeld wat Jesus gebruik om ons lewenstaak op aarde te beklemtoon nie. Ons dink in
moderne terme net aan sout as geurmiddel. In Jesus se tyd het sout baie verskillende
funksies vervul en was dit baie kosbaarder as wat ons dit vandag ag. Sout het veral
drie gebruike gehad, asook een simboliese betekenis:

Sout was ‘n preserveermiddel.
Dit het bederf in voedsel teëgewerk. Die Grieke het gesê dat sout ‘n nuwe siel in ‘n
dooie liggaam sit. Dit gee nuwe lewe aan voedsel. Dit preserveer, bewaar, werk teen
bederf. So moet ons in die wêreld optree. Ons moet lewe gee, bederf teëwerk, bewaar
en versorg met die verfrissende lewegewende evangelie van Christus se liefde en genade.
Ons staan op teen onreg. Ons steek ‘n helpende hand uit. Ons staan nie terug vir teenstand
nie. Ons glo die uitdrukking: “Evil flourishes when good men do nothing.” Ons werk teen
boosheid en verrotting. Willem Nichol het gesê: “Ons is hardgebak in sy genade en taai
genoeg vir die hardheid van die wêreld.” Ons laat dinge gebeur.
Ons toets nie die water nie. Ons ry die branders!

Sout was ‘n geurmiddel.
Ons weet vandag nog dat sekere voedsel sonder sout regtig sleg smaak. Ons sê dan ook
die kos smaak “laf”. Wanneer ons nie die aangename geur van die evangelie versprei nie,
wanneer ons nie die geur van sout in die lewe bring nie, word die lewe oppervlakkig en
sonder diepte-betekenis. Ons, kinders van die Here, is die mense wat met ons optrede
van vreugde, vrede, liefde en genade nuwe smaak aan die lewe gee!
God doen dit deur ons!

Sout was ‘n kunsmis-middel.
Sout is dikwels oor die land gestrooi en in die grond ingewerk sodat dit die groeipotensiaal
van die grond kon verbeter. Ons dra die hemelse boodskap in ons en die Here strooi ons
om die groeipotensiaal in mense se lewens te gaan verhoog. So werk ons ook teen verrotting
en bederf. Cyprianus skryf in die tweede eeu n.C. aan sy vriend, Donatus, hierdie woorde:
“Ek het te midde van die bose wêreld ‘n stil en heilige volk ontdek. Hulle het ‘n vreugde ontdek
wat ‘n duisend keer beter is as enige plesier in hierdie sondige lewe. Hulle word verag en vervolg,
maar hulle gee nie om nie. Hulle het die wêreld oorwin. Hierdie mense, Donatus, is Christene...
en ek is een van hulle.” Treffend! Waar!

Sout was ook ‘n simbool. Dit was ‘n simbool van reinheid. Waarskynlik ook as gevolg van die wit
kleur van sout. Die Romeine het gesê dat sout een van die suiwerste dinge was, omdat dit van
die suiwerste dinge afkomstig is, naamlik die son en die see. Christene is daarom ook gesien as
mense wat reinigend moet leef. Reinigend is gesien as “total commitment”. Christene leef in God
se geselskap, én word in God se geselskap gesien.
Wandel saam met Jesus! So laat jy dinge gebeur!

Iemand wat hou van Tabasco- sous het “sout vir die aarde” só geparafraseer:
“You are the red-hot pepper for the whole earth. You must add zest to the life of the world.”
Gee “zest” aan die lewe! Jesus lewe, oral waar jy leef!

Ernest