Matteus 5:14: “Julle is die lig vir die wêreld...”
The Message vertaal dit treffend so: “You’re here to be light,
bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to
be kept. We’re going public with this...”
Die lig van God se liefde moet deur ons lewe skyn! Om die lig vir
die wêreld te wees is om met God se liefde so te leef dat mense
na hul asem sal snak wanneer hulle deur ons, soos The Message
dit stel, die “God-colors” in hierdie wêreld raaksien. God se
teenwoordigheid sien en ervaar! Dit gebeur doodgewoon in die
alledaagse waar ons leef. Om die lig vir die wêreld te wees is om
God se liefde vir die wêreld te wys! Om die donkerte in ander se
lewe te verdryf met God se lig wat daarop skyn.
John Ruskin het een aand saam met ‘n vriend gesit en kyk hoe die
lampaansteker van ‘n ou Engelse dorpie die lampe aansteek al
langs die pad. Later kon hulle hom nie meer sien beweeg nie,
maar net in die verte sien hoe die een lamp na die ander begin skyn.
Ruskin het vir sy vriend gesê:
“There is what I mean by being a real Christian. You can trace his
course by the lights he leaves burning.” Jou lewe tot eer van die
Here laat ‘n ligspoor in die duisternis!
Dit is soos met ‘n gloeilamp. Die gloeilamp se taak is om te skyn.
Niemand praat oor die gloeilamp nie, maar oor die “lig” wat “aan”
of “af” is. Almal praat oor die lig! Die lig skyn, of die lig is af.
Mense moet vir God sien, nie vir jou nie! Jy straal sy liefde en
heerlikheid uit.
In Matteus 5:14b-15 praat Jesus ook oor die tragiese moontlikheid
dat jy jou lig kan wegsteek. Jy steek nie ‘n lamp aan en sit dit onder
‘n maatemmer nie! Is jou lig aangeskakel? Staan dit op die lampstaander?
Skyn dit? Gee dit lig vir almal rondom jou?
Vers 16 sê: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie
werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik”.
Moontlik skyn jou lig nie omdat jy dink jy kan dit nie uit jouself regkry nie.
Onthou, ons is nie die lig nie. Ons reflekteer net God se lig!
Daar is nie genoeg donkerte in die ganse wêreld om selfs net een klein
kersie uit te doof nie. Duisternis kan nie lig verdryf nie. Maar lig verdryf
altyd duisternis! Laat jou lig skyn, sodat jou Vader wat in die hemel is
daardeur verheerlik word!
Ernest