Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook
kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en
volmaak is.”
Paulus wil sê dat jy ‘n veranderde mens is omdat jou denke vernuwe word.
Dit het alles met jou “doen-lewe” te doen! Paulus gebruik twee Griekse woorde
in hierdie vers wat moeilik vertaal word.
Die een kan in Afrikaans vertaal word met konformeer, of gelyk word aan,
of aanpas by, of skik na.
Die ander woord kan vertaal word met verander, of transformeer, of herskep,
of ‘n gedaanteverwisseling ondergaan, soos in metamorfose.
‘n Goeie voorbeeld van die eerste woord is ‘n verkleurmannetjie wat konformeer.
Hy neem die kleur van sy omgewing aan. Hy skakel eenvoudig in by sy omgewing.
Hy lyk as’t ware soos die res. Daar is baie sogenaamde Christene wat maar net soos
die res lyk en leef.
‘n Skoenlapper is weer ‘n goeie voorbeeld van die tweede woord se betekenis van
metamorfose. Hy verander van ‘n lelike larwe in ‘n veelkleurige vlinder. Die verandering
vind nie eensklaps plaas nie maar deur ‘n proses. Dit is ook hoe God ons verander.
Om meer en meer die beeld van Jesus te vertoon. ‘n Christen kan nooit sê “ek het nou
in die geloof gearriveer” nie.
God is voortdurend besig om ons deur die Heilige Gees te verander. Hy is voortdurend
besig om ons denke te vernuwe. So sal ons kan onderskei wat die wil van God is.
Ons is eintlik nie net veranderde mense nie, maar inderdaad deurlopend veranderende
mense! Dit is ‘n lewenslange proses.
Wat is die verskil tussen konformeer en verander?
Die konformis is altyd besig om iets by sy of haar lewe te voeg. Die wêreld leer ons dat
ons meer nodig het, en nóg meer, en nóg meer...want “meer is beter”. Die konformis
val daarvoor.
Mense wat deur Christus van ‘n ou mens na ‘n nuwe mens verander word, is geleiers
van Christus se krag na die wêreld. Hulle maak ‘n verskil aan die mense rondom hulle,
en aan hulle omgewing. Hulle fokus op wie hulle in Christus is. Hulle fokus ook op die
gawes wat God aan hulle gee deur die Gees.
Die konformis soek ‘n verhoging.
Die veranderende mens soek ‘n bediening.
Die konformis soek meer en meer goed.
Die veranderende mens soek die regte goed.
Die konformis se lewe word deur die samelewing se waardes geraak.
Hulle is uiteindelik so deurmekaar soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n “Smartie-boksie.”
Die veranderende mens weet Christus-waardes maak ‘n verskil in die samelewing.
Die konformis soek die troos van die liggaamlike.
Die veranderende mens soek die vernuwing van denke.
Die konformis belê in die tydelike.
Die veranderende mens belê in die ewige – die Goddelike.
Laat God jou verander, deur jou denke te vernuwe! Dan sal jy kan onderskei
wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is!
Ernest