‘n Kind van die Here ís ‘n bidder! Baie gelowiges wens hulle was “bidders”.
Daarmee bedoel hulle dat hulle wens hulle kon “goed” bid. Daar is egter nie
regtig iets soos “goed” bid nie. Almal praat verskillend met die Here, en daar is
ook verskille soorte gebede na gelang van omstandighede. Wanneer jy opreg bid,
opreg met die Here praat, dan bid jy “goed”! Ons almal beleef een of ander tyd,
of meer gereeld “swakheid” in ons gebede. Selfs dat ons nie eers woorde het om
te bid nie. Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie...

Romeine 8:26 is die wonderlikste woorde om aan vas te hou in die worstel mét gebed,
en ook die worstel ín gebed! Paulus stel dit so: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid
by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met
versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” Elke kind van die Here se gebed wat
opreg gebid word is ewe veel werd, want die Gees bid in ons vir ons om ons te help.
The Message vertaal bogenoemde vers so: “If we don’t know how or what to pray,
it doesn’t matter. God’s Spirit does our praying in and for us.” Hierdie waarheid van
die Woord van God gee ons almal wat as kinders van God opreg wil bid, die grootste
vrymoedigheid om te bid!

Baie kinders van die Here “sukkel” met gebed. Hulle lees boeke daaroor,
woon seminare by, vra raad, maar bly “sukkel” om te bid. Ook die dissipels het gevra:
“Here, leer ons bid.” Hoekom “sukkel” so baie gelowiges om te bid? Die woorde van
Don Chapman oor hierdie probleem is baie insiggewend: “Pray as you can, don’t pray
as you can’t.” Hy stel dit ook anders: “The best way to pray is the way you pray best.”
Juis dít is dikwels ons probleem. Ons word geleer om op ‘n bepaalde manier te bid,
en dit werk nie noodwendig vir mý nie. Dit werk nie vir wie ék is en hoe God mý gemaak
het nie. Ons is verskillende soorte mense met verskillende persoonlikhede.

Ekstroverte bid nie soos introverte nie. Ekstroverte fokus na buite en kry so energie.
Introverte fokus na binne en kry weer só húlle energie. Ekstroverte praat en bid wat
hulle dink. Introverte dink voor hulle bid. God verstaan egter albei persoonlikhede.
Party mense funksioneer meer op gewaarwording en ander meer op ingewing.
Die eerste soek feite en die tweede sien die geheel beter.
Daar is ook twee maniere waarop mense besluite neem. Denkers maak staat op logika.
Gevoelsmense fokus meer op waardes. Die eerste wil weet wat waar is, en die tweede
groep wil weet wat goed is. Die een groep bid vanuit beginsels, en die ander vanuit ervaring.
Daar is mense wat vanuit gevolgtrekkings leef, en ander vanuit waarneming, wat oop bly en
daarom moet jy steeds inligting inwin en nie gou gevolgtrekkings maak nie. Vir die een groep
moet daar roetine wees in gebed, en vir die ander groep kom gebed net meer spontaan en
wil hulle nie gebed-tye hê nie. Die een groep reël ‘n biddag en die ander groep nie.
En tog bid almal ewe opreg vir dieselfde sake of mense. En God luister met liefde en genade!

Almal is bidders. Almal word deur die Heilige Gees gelei in opregte gebed.
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by...”
Daarom moet die een tipe bidder nie op die ander neersien nie. Ons moet ook nie mekaar
probeer oortuig om “soos ek” te bid nie. Leef in jou unieke verhouding met die Here, ook
ten opsigte van jou gebede. Laat daarom ook die Gees toe om jou te lei in gebed.
Ontwikkel hiervoor ‘n fyn aanvoeling, en besef net weer: Jý...is óók ‘n bidder!

Ernest