Ons loop dikwels met ‘n skuldgevoel rond omdat ons dink
ons is nie “bidders” nie. Ons kry dit nie reg om toegewyd gebedstye
te skep nie. Of ons bid nie “goed genoeg” nie. Of gereeld genoeg nie.
Of lank genoeg nie. Ons wil as’t ware gebed skei van die res van ons lewe,
en dit by uitnemendheid doen.
Paulus sê in 1 Tessalonisense 5:17: “Bid gedurig”. Dit is eintlik ‘n leefwyse
van gebed. Dikwels met oop oë. Terwyl jy in die natuur loop. Of agter die
stuurwiel van jou motor waar jy in die verkeer sit. Dit is ‘n gesels met God.
Dit is ook dikwels ‘n worsteling met God. Dit is nie net op jou knieë nie.
Iemand het gesê as jy net op jou knieë bid, bid jy te min. Gebed is ‘n saamleef
en saampraat met God.
Wanneer jy dit besef bevry dit jou van skuldgevoelens. Jy weet jy kan wees
wie jy is, in gebed. Jy besef jý is óók ‘n bidder! Jy besef almal kan bid en dat
‘n mens nie iets kry soos ‘n swak of ‘n slegte bidder nie. Ons maak gebed te
ingewikkeld. Ons neem die vrymoedigheid van gebed weg. Gebed is soos
enige gesprek geklee met oomblikke van praat, oomblikke van luister, en
oomblikke van stilte en oordenking. God verwelkom jou in sy teenwoordigheid
en wil na jou luister.
Dat ons moet bid is ononderhandelbaar. Hoe jy bid hang van jou as indiwidu af,
van jou persoonlikheid. Onthou Romeine 8:26 wat sê dat die Gees ons in ons
swakheid help om te bid! Met hoe en wat jy moet bid. Met vrymoedigheid.
Gebed is tussen jou en God wat mekaar liefhet!
Wanneer jy bid kan jy veral onthou wat William Barclay gesê het:
Die liefde van God bedoel altyd net die beste vir ons,
al is dit nie presies soos ons dit wil hê nie.
Die wysheid van God weet altyd wat tot ons beswil sal wees.
Die almag van God kan dit altyd uitvoer.
Maak tyd vir gebed. Doelbewus. Catherine Marshall het gesê:
“The best time for prayer isn’t found. It’s made.” Ons sal nooit tyd
vind om stil te word nie. Enige tyd is die beste tyd. Maak die tyd wat
vir jou werk. Maak tyd om by God te sit en te “gesels”, jou hart te deel.
Ons gaan nie na God toe om weg te kruip van die wêreld nie, maar om
krag te kry vir die wêreld. om Hom te verteenwoordig in die wêreld!
Kry balans tussen jou stil plek by die Here en die markplek waar jy leef en werk.
Besef net weer vandag: Jy is ‘n bidder! Bid gedurig!
Ernest