Baie mense aanbid ook deur musiek en lied.
Een van die Hervormers het gesê wanneer ons sing bid ons
twee keer. Die dien van God en aangrypende aanbiddings
liedere en musiek loop saam. Musiek en lied is gawes van God.
Dink maar aan Dawid wat een van die mees begenadigde mense was.
Hy was ook geseën om musiek te kon maak en liedere te dig.
Menige Psalms word Psalms van Dawid genoem.

Die kerkvader Ambrosius het die groot belang van musiek in die
Vroeë Kerk gevestig: die gebede wat gesing is, lofliedere, aanbiddingsliedere,
die Kyrie Eleison, oftewel “Here, wees ons genadig”. Luther was ook ‘n musikant
en komponis. Hy het boodskappe deur wonderlike himnes uitgedra.
Musiek en gebed loop deur die eeue saam.

Musiek was ook God se plan om Dawid in Saul se koningshof te kry.
Saul wat bejammerenswaardig waarskynlik aan depressie gely het, wat mense
in daardie tyd as ‘n “boosaardige gees” gesien het, het Dawid laat musiek maak
om hom te kalmeer. “Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid
die lier gevat en daarop gepeel. Dan het Saul bedaar.” – 1 Sam. 16:23.
Die mense van daardie tyd het min van emosionele steurings verstaan. Maar God
het op ‘n merkwaardige manier Saul se siekte ingeweef in sy metode om Dawid
se musiek, en later sy durf ten toon te stel aan die koningshof. Dit het Saul kalmeer.

Dink ook net hoe ‘n lied in jou hart jou dag verander. Hoe jy God se lof kan verkondig.
Begin gereeld jou dag met ‘n lied aan God, al is dit net in jou gemoed. Herhaal dit,
en kyk hoe dit jou die teenwoordigheid van God laat beleef.
Sing met jou hele lewe tot eer van die Here!

Ernest