Dit is menslik en doodnormaal om moedeloos te word,
veral wanneer jy gekonfronteer word met ‘n situasie waarin jy
net nie ‘n oplossing raaksien nie. Dit het ook met die Israeliete gebeur.
Die Filistyne het met ‘n “onoorwinbare” wapen te voorskyn gekom.
Hy was ‘n gepantserde vegter, ‘n geweldige groot man, wat elke dag die
Israeliete uitgedaag het om teen hom te kom veg. Maar hulle het eerder
skuiltes opgesoek. Hy het vrees by hulle ingeboesem. Wanneer Dawid by
die gevegsfront aankom hoor hy van hierdie “wapen” van die Filistyne.
In 1 Sam. 17:26 vra hy aan die manskappe van Israel: “Wie is hierdie heiden,
hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”
Dit het Saul ook moedeloos gemaak dat almal bang is vir hierdie “wapen”
– Goliat!...die reus!

Dawid se optrede aan die gevegsfront het rugbaar geword en die manskappe
het dit vir koning Saul vertel. Saul het Dawid laat haal. En dan vers 32:
“’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul.
“Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Dawid sê dit is moontlik om Goliat
te oorwin. Maar, en dit is belangrik, jy moenie dat die probleem, Goliat, jou
moedeloos maak nie! Sien dit as ‘n uitdaging, ter wille van God! Moenie dat
moedeloosheid jou oorrompel nie. God is groter as jou probleem!

Dawid het van jongs af gevare by die skape afgeweer. Hy het van jongs af
geleer dat niks voor die mag van God kan stand hou nie! Soek God se eer en
elke probleem word ‘n uitdaging ter wille van die eer van God! En wat gebeur?
God eer selfs Dawid se jeugdige oormoed!

Ons het al baie keer geworstel met dinge of mense, en moedeloos geraak.
Dit word ‘n probleem waarvoor jy hoegenaamd geen lig meer sien nie, totdat...
totdat jy weereens ontdek dat God groter is as jou probleem. Dan word dit ‘n
uitdaging ter wille van God. Kom by die punt waar jy die probleem vir God gee
en saam met Dawid kan sê “’n mens moet nie oor hóm moedeloos word nie”!
Gee dit, doelbewus afhanklik van die Here, oor aan die Here. Die Here sal jou
die uitdaging laat oorkom, nie noodwendig op jou tyd en wyse nie, maar op sy
tyd en wyse. Die Here laat jou hierin groei en leer in wysheid, en afhanklikheid
van Hom. Dit is wat Dawid agter sy skape geleer het, en wat hom Goliat laat
oorwin het in God se krag. Dawid het geweet dat hy saam met God alles kan
hanteer. God is in beheer.

Dawid sou ook later in sy lewe deur baie moeilike tye gaan. Maar God was
altyd by hom. En al het hy wankelend getrap, het God hom regop gehou.
Moenie moedeloos word nie.
John Wayne het gesê: “Moed is om doodbang te wees en tóg jou perd op te saal!”
Thomas Aquinas het gesê: “Moedige mense is hulle wat hul krisis in die oë kyk en
ten spyte daarvan dóén wat rég is”.
Of soos Dawid gesê het: ’n Mens moenie oor hóm, of dit, moedeloos word nie...
ek sal gaan veg!...saam met God ter wille van die eer van God!

Ernest