Dawid het Goliat met sy slingervel en klippies verslaan, in die krag van die Here.
Die vroue het die lof van Dawid besing. Meer as wat hulle die koning besing het...
Saul het daarom jaloers geword. En bang. ‘n Nuwe vyand bedreig Dawid, uit eie
geledere. Jaloesie is gevaarliker as ‘n duisend Goliatte, by wyse van spreke.
Dit is ‘n emosie wat ander vernietig, en, die ergste van alles, jouself vernietig!
Dit maak jou vol vrees en wantrouig, soos vir koning Saul. 1 Sam. 18:12:
“Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was.” Let op:
omdat die Here by Dawid was.

Dit gebeur ook in ons lewens. Jy tree op in die Naam van die Here en ter wille
van die eer van die Here. Sommiges besing jou lof, en ander raak jaloers en steek
jou in die rug. Dit was vir Saul baie duidelik dat Dawid iemand besonders was,
en hy raak jaloers. Wanneer jy vir die saak van die Here veg trek jy positiewe en
negatiewe reaksie. Aan die een kant word jou “roem besing”, maar aan die ander
kant lewe Dawid nou in gevaar, blootgestel aan jaloerse spiese van die mense
rondom jou, bekendes en onbekendes. Saul het “waansinnig” oor Dawid geraak
en hom teen die muur probeer vaspen.
Maar by Dawid was nog steeds God in al sy krag! Juis dit maak dikwels vyande
bevrees en gevaarlik. Dawid was gedurig in gevaar en moet ook gedurig gewaarsku
word en vlug.

Maar God werk ook deur mense rondom jou om jou in die holte van sy hand te hou.
Selfs onverwags. God sorg weer vir ‘n reddingstou. Een van vriendskap met, van alle
mense, die koning se seun Jonatan. Hierdie vriendskap sou legendaries word! Dit is
hoe dit gaan met mense wat die Here dien. In elke groot drama of teleurstelling,
in elke doodloopstraat, in emosionele donkerte, sal iemand vorentoe tree onder
leiding van die Here om jou te help. God werk deur mense met mense. Dit kan
iemand heel onverwags wees. Selfs ‘n kind of ‘n eenvoudige mens...

Dawid en Jonatan het in die Naam van die Here trou gesweer. “Jonatan het vir
Dawid gesê: “Gaan in vrede omdat ons twee in die Naam van die Here trou gesweer
het.” – 1 Sam 20:42.
Dank die Here vir die mense in jou lewe wat nie net mooiweersvriende is nie.
Dank die Here vir egte vriendskap! Egte vriende is nie jaloers nie. Hulle is soos
onsigbare engele wat jou op jou voete help as ons “vlerke” ons nie meer kan oplig nie.
Vriende is een van die maniere waarop God vir ons sorg. Dit leer ons ook uit die gebeure
tussen Saul en Dawid en Jonatan.
Enige iemand wat jou nader aan God bring is jou beste vriend!

Ernest