Dawid beland in ‘n baie moeilike situasie. In ‘n woeste burgeroorlog
het Saul selfs die priesters van Nob laat vermoor omdat hulle vir Dawid
brood gegee het! Maar toe kry Dawid ‘n uitstekende kans om koning Saul
dood te maak, in ‘n grot. Saul was in ‘n posisie van magteloosheid sonder
dat hy dit eers weet. Dawid doen dit egter nie! In 1 Sam.24:7 sê Dawid:
“Mag die Here my daarvan bewaar dat ek my hand teen die koning, die
gesalfde van die Here, oplig.” Dawid sny slegs ‘n punt van Saul se kleed af,
terwyl hy slaap. Want, sê hy later vir Saul, hy sal nie sy hand oplig teen sy
koning, “die gesalfde van die Here”, nie. En dit terwyl hy weet dat Saul alles
probeer om hom te vernietig. Dawid het hieroor geen illusies gehad nie,
want nadat Saul hom tranerig dank, gaan Dawid terug na sy bergskuiling toe,
volgens vers 23.

Op 6 Mei 1689 het drie De Villiers broers, as Franse vlugtelinge, met die
skip Zion aan die Kaapse kus aangekom. Hulle is in Frankryk vervolg as gevolg
van hulle Protestantse geloof. Volgens oorlewering het hulle glo op die strand
uit skulpe ‘n heildronk gedrink op hulle veilige aankoms en gesweer dat hulle
en hulle nageslag nooit ontrou aan die Here en die gereformeerde geloof sou
wees nie. Hulle was Protestante in murg en been. Maar hulle het glo nog iets
gedoen wat die meeste mense sal verbaas. Hulle het ook vir hul koning, Louis XIV,
gebid!... en ook op hom ‘n heildronk gedrink. Die einste koning wat hulle uit hul
vaderland verjaag het weens hulle geloof! Die meeste van ons sal dit nie mooi
verstaan nie. Dit is omtrent dieselfde as wat Dawid hier gedoen het.

Jesus verstaan dit. Hy is die Een van vergifnis. Maar daar is ook nog iets op die spel,
vir Dawid, en moontlik ook die De Villiers broers. Die groot kwessie van die eerbiediging
van gesag. ‘n Mens kan van gesag verskil en selfs vlug, soos Dawid en die De Villiers broers.
Maar jy moet mooi dink voor jy gesag uitdaag. Natuurlik kan hierdie onderwerp ‘n hele
debat afgee, veral polities gesproke in ons dag. Die punt is egter dat ons in ‘n tyd leef
waarin respek vir gesag net minder en minder raak. En dit geld veral gesag wat uit
Bybelse oogpunt so belangrik is: Ouerlike gesag, die gesag van die reg, opvoedkundige
gesag, en dan, bo alles, God se gesag en die gesag van God se Woord!
Dit is wat vir Dawid hier ter sprake is! Koning Saul is die gesalfde van die Here!
Dawid het voor die grot voor Saul gebuig, net nadat hy die geleentheid gehad
het om hom dood te maak.

Wanneer ons hierdie gebeure oordink betaam dit ons om elke dag diep voor
ons God se gesag te buig, al verstaan ons dikwels ook nie sy “vreemde” handelinge nie...
God, is ons God! Dawid buig voor Hom, in terme van sy buig voor koning Saul,
wat God se gesalfde is. Buig voor God.
Moenie sy gesag met jou manier van lewe uitdaag nie.

Ernest