1 Sameul 25:1: “Samuel is oorlede, en die hele Israel het bymekaargekom
en oor hom gerou. Hulle het hom begrawe by sy huis in Rama.” Deur die eeue
lees ons van werklike manne en vroue van God, mense wat uitgestaan het en
wat vir een doel geleef het: om God te volg in elke dag en in elke omstandigheid.
Mense wat hulle op die Here instel en na sy stem luister. Maar ons vind ook hierdie
mense in ons eie kringe van familie en vriendskap. Mense wat ‘n “gesalfdheid”
uitstraal, daardie nabyheid, insig en wandel met God. Soms eenvoudige mense,
soms intelligente mense, soms doodgewone mense, mense wat nie eer soek nie,
en tog soveel “teenwoordigheid” bring waar hulle leef en beweeg.
Samuel was so ‘n man. Hy het gebuig voor God, na sy stem geluister,
en Hom gehoorsaam.
Daar leef ook sulke mense naby ons. Of hulle hét naby ons geleef. Mense met
‘n nalatenskap wat ons vandag nog laat dink en ons rig. Eenvoudige mense,
opregte mense, mense wat jou aanraak soos engele. Die Here seën jou met
‘n lewende gedagtenis aan hulle. Dit is asof hulle met jou saamloop, al weet jy
hulle is lankal “by die Here”. Wanneer jy in die kerk sing dink jy soms aan hulle,
of wanneer jy bid voel dit asof hulle ook naby is. Jy weet waar hulle is, maar hulle
wysheid, voorbeeld, opregtheid, ja, hulle nalatenskap loop steeds saam met jou.
Dit kan jou oupa of ouma wees, pa of ma, ‘n familielid, goeie vriend of bediende.
Iemand deur wie die Here ‘n onuitwisbare merk op jou lewe gelaat het. ‘n Seën,
‘n Sameul. Iemand oor wie die “hele Israel” gerou het. Israel het seker besef dat
Samuel se wysheid en liefde, sy nalatenskap sou bly voortbestaan vir hulle, en tot
vandag toe deur die Woord van God vir ons.
Dit is iets om na te streef. Om in ons eie klein kring, waar ons leef en waar ons
ook al is, iets na te laat wat ander mense en ons geliefdes kan navolg. Om soos
‘n Sameul nie eer te soek nie, maar so opreg saam met die Here te leef dat jy ander
mense na die Here toe leef. Dra ‘n lewe oor wat saam met ander mense kan bly loop.
Die sin van jou lewe lê daarin dat jy daarmee ‘n verteenwoordiger van die Here is in
jou lewensruimte. Wat is jou nalatenskap? Jou “legacy”?
Oswald Chambers het gesê: “Dit is maklik om eenmalig as bewonderaar waagmoedig
agter Jesus aan op die water te loop. Om Hom elke dag as sy dissipel op die droë grond
in die klein dingetjies te volg, is ‘n ander storie.” Jy sal nooit nader aan Christus kom as
in jou liefde en sorg vir daardie man of vrou, of kind, of bediende wat jou nodig het nie.
Jou “legacy”, jou nalatenskap, is nie eers iets waaraan jy dink nie. Jy leef net eenvoudig
saam met en vir Jesus. Wat ander mense van jóú dink is nie meer vir jou belangrik nie,
maar wat hulle van Jesus dink, as hulle na jou as ‘n Christen kyk,
dít is vir jou lewensbelangrik!
Ernest