“Jonatan lê verslaan op die hoogtes. Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart.” – 2 Sam 1:25-26.
Saul is ingehaal deur die Filistyne en hy en sy drie seuns, waaronder
Jonatan, sterf op die berg van Gilboa. ‘n Lewe wat goed begin het,
het in ‘n tragedie geëindig met Saul wat in sy swaard val.
In ‘n aangrypende klaaglied treur Dawid oor hom, maar veral oor
Jonatan, sy lewenslange vriend wat “verslaan lê op die hoogtes”.
Dit is groot smart wat in digterlike taal uitgedruk word. Tipies van Dawid,
die musikant en digter van Psalms. Die dood is altyd ‘n geweldige ingryping
in die lewe van geliefdes wat agterbly. Verdere wreedheid volg in hierdie geval.
Saul en sy seuns se liggame word met minagting behandel en deur die Filistyne
teen die stadsmuur vasgespyker. Die goedige mense van Jabes het hulle daar
gaan afhaal.

Dawid treur, en dit is goed, vir emosionele gesondheid. Ons moet nie ons hartseer
altyd “dapper” probeer onderdruk nie. Ons kan ‘n kosbare lewe wat verby is eer,
en vier, ook met hartseer en trane. Om te treur is helend. Om te treur is suiwerend.
Dawid het ‘n ware vriend gehad wat deur die eeue “menslik” sou voortleef.
Vandag nog word gepraat van vriende wat soos “Dawid en Jonatan” is.

Vandag kan ons ook aan geliefdes dink wat weg is, en ook nog “hier” is. Hulle “leef”
steeds by ons tot ons troos en dank. Die Here het ons deur hulle geseën, en seën ons
steeds deur hulle nalatenskap. Ons leer ook in hartseer tye dat ander lydendes,
wie se pyn selfs groter as ons sin is, oopmaak om ook ons hartseer te help dra!
Ons leer ook oor ons eie lewe dat ‘n juweel nie gepoleer kan word sonder wrywing nie,
so ook nie ons lewe sonder hartseer en pyn nie. Ons weet dat die lewe voortgaan,
en dat ons vroeër of later weer moet saamgaan. In die laaste instansie is die vraag nie
hóékom ons hartseer en pyn beleef nie, maar hóé ons daarop sal reageer wanneer
ons aangaan.

Ons kan ons vereenselwig met Johann Wolfgang Von Goethe se woorde,
wanneer ons hartseer raak oor ons eie dood wat aan’t kom is, of ‘n geliefde se dood
wat ons hartseer maak:
“Die gedagte aan my eie of ‘n geliefde se dood maak my hartseer, maar dit ontstel my nie,
want ek is absoluut oortuig dat ons gees onvernietigbaar bly lewe van ewigheid tot ewigheid.
Dit is soos die son wat agter die horison verdwyn, soos dit vir ons aardse oë lyk, maar wat in
werklikheid nooit wegraak nie, en net elders eindeloos bly skyn.”

Ernest