“Dawid het in die vesting, Jerusalem, gaan woon en dit
Dawidstad genoem. Hy het al hoe sterker geword en
die Here die Almagtige was by hom” – 2 Sam. 5:9-10.

Dawid is in Hebron gekroon en het na gevegte met die reste
van Saul se leër die stad Jerusalem by die Jebusiete afgeneem.
Dawid was nou die onbetwiste leier en heerser. Hy het respek
afgedwing by sy eie mense en by ander vorste soos Hiram van Tirus
wat hom gehelp het om sy paleis “met terrasse” te bou.
Die stad van Dawid, Sion, sou ‘n baie bekende stad word,
tot vandag toe...Jerusalem.

Treffend is bogenoemde teks is die woorde:
“...die Here die Almagtige was by hom.” Dit is of daar ‘n besondere
nabyheid tussen Dawid en God was. ‘n Groot intimiteit. Mense vra:
Hoekom word juis Dawid so geseën? Van skaapwagter tot koning,
tot voorsaat van die uiteindelike Verlosser in die Nuwe Testament!
Ons is geneig om daarmee ons eie waarde minder te skat, asof die
Almagtige minder in ons lewens doen... Is dit so? Nee. God verlustig
Hom in die skepping van alle mense! God verlustig Hom in die skepping
van “gewone” mense soos ons. Elke mens is vir God ‘n besondere mens.
God het sy Seun gestuur om vir alle mense, vir letterlik elke mens aan
die kruis te sterf. Vir elke mens, hoe “gering” of “eenvoudig” ook al.

God verlustig Hom in die aanbidding van elke mens wat sy aangesig soek.
En ons kan met vrymoedigheid deur Christus in die teenwoordigheid van
God wees. Ons is in God se teenwoordigheid. God woon deur sy Gees
in ons! God is so naby aan sy kinders soos in hulle!
“Die Here die Almagtige” van bogenoemde teks is net soveel by jou,
as wat Hy by Dawid was. Of jy in Jerusalem in die tempel gaan aanbid saam
met Dawid, of in jou gemeente saam met ander gelowiges gaan aanbid,
of in jou eie stiltetyd, of soos ‘n sekuriteitswag jou Bybel in sy hokkie sit
en lees, by die ingang van die gebou wat hy oppas... jy sal al hoe sterker
word in die teenwoordigheid van “die Here die Almagtige”... wat by jóú is!

Karl Barth het gesê ons moet nooit dink dat God meer by een van sy kinders
is as by ‘n ander een nie. Hy het gesê jy moet net Psalm 139 gaan lees om te
ontdek hoe naby die Here die Almagtige deurgaans by jou is!
Gaan lees dit!

Ernest