“Daardie dag het Dawid bang geword vir die Here en gesê:
“Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” – 2 Sam. 6:9.
Dawid was God se uitverkore dienaar. Maar ook hy moes op ‘n dag
verpletterend agterkom dat God ook vir sy geliefdes duidelike grense trek.
God laat nie sy Naam, sy eer, sy Persoon, of ‘n simbool waaroor sy Naam
uitgeroep is en wat Hy heilig verklaar het, aantas nie.
Nadat Dawid Jerusalem verower het wou hy die simbool van God se Teenwoordigheid,
die verbondsark, by hom in Jerusalem hê. Die ark was by die huis van Abinadab, net twee
ure se stapafstand vanaf Jerusalem, nadat die Filistyne dit teruggebring het omdat hulle dit
nie met die ark kon uithou nie. Dagon, hulle afgod, het twee keer stukkend geval voor die ark.
Oral waar hulle die ark gestuur het, het epidemies uitgebreek. Hulle stuur toe die ark, op ‘n wa,
terug na Israel. Nou, wanneer die ark teruggeneem moet word na Jerusalem, plaas hulle dit,
net soos die Filistyne, ook sommer op ‘n wa. Die osse wat die wa getrek het, het gestruikel,
en Ussa wat wil keer dat die ark van die wa kantel, gryp daarna om dit teë te hou. Hy was een
van die drywers op die wa. “Die toorn van die Here het teenoor Ussa ontvlam en God het hom
net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.”
– 2 Sam. 6:7.
Ons eerste reaksie is: Regtig! Is dit nie buitensporig nie? Onbegryplik! Ussa wou tog immers net
goed doen! Hy wil net keer dat die ark nie beskadig word nie! Hoe kan God dit doen? Is dit hoe
God is? Ons sal dit egter nie verstaan as ons nie die volle prentjie kry nie. Agter die oënskynlike
onskuldige gebaar van Ussa lê veel meer. Die regverdige God van hemel en aarde straf nie sommer
net oor “nietighede” mense met die dood nie. Wie van ons sou dan nog kon bestaan?!
Wat is die groter prentjie in hierdie gebeure?
Die eerste is ongehoorsaamheid aan God. Hulle het, net soos die Filistyne, sommer die ark op
‘n wa gelaai en Ussa en Agjo het die wa gedrywe. God het uitdruklik gesê die ark mag net gedra
word, en net deur die Leviete – 1 Kron. 15:14-15. Dawid en sy mense was dus ongehoorsaam aan
die duidelike voorskrifte van God.
Die tweede is gebrek aan eerbied. Dit lyk asof Dawid meer op homself fokus as op die heilige
teenwoordigheid van God deur die ark. Met die hele onderneming om die ark na Jerusalem te bring,
net twee ure se stap, maak Dawid meer van ‘n militêre vertoning van sy mag, as van die heiligheid
van God se teenwoordigheid deur die ark. Hy trek met 30 000 manskappe op. Tydens die prosessie
word ook geen offers gebring nie. God het offers voorgeskryf met die dra van die ark.
Die derde is die vraag of gemaksug nou sommer oorneem? Oneerbiedig word die ark sommer op
‘n wa geplaas eerder as om dit te dra soos voorgeskryf. Om God in jou eie gemaksug te dien...eerder
as om op te offer...
Die vierde is dat dit nou in dieselfde rigting begin loop as met Saul wat sommer self offers begin bring
het, in plaas van die priesters, soos deur God beveel.
God gryp in. Dinge loop in die verkeerde rigting. Dawid moet as koning die volk lei volgens die wil van
die Here! Ussa se dood is nie sommerso onskuldig en onverdiend nie. Dit is die uiterlike aanduiding van
‘n menigte gesindhede en gevaarlike neigings by die volk van God. As sulke optrede en sondes in Israel
sou voortlewe, sou dit vir die hele volk rampspoedig gewees het. Dan sou die hele volk getref moes word,
en nie net een mens nie. Ussa se dood het inderdaad alles verander. Dit was die volk se redding. Iets het
in koning Dawid se hart gebeur wat die volk “gered” het. “Daardie dag het Dawid bang geword vir die Here
en gesê: “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” – 2 Sam. 6:9. Dawid het besef hy was óók
verantwoordelik vir die dood van Ussa. Hy het ook die voorskrifte van die Here oor die ark geïgnoreer.
Hy het saam gesondig en was saam skuldig. Hoekom was hy bang? Omdat hy hard en op ‘n nuwe manier
moes leer verstaan hoe heilig die Here God is. Wanneer hy nou vir die tweede maal die ark na Jerusalem
bring, doen hy dit volgens al die voorskrifte van die Here. Ussa het gesterwe sodat ‘n hele volk en die koning
wat hulle moes lei, weer die heiligheid van God kon besef en Hom dien volgens sy wil, en nie volgens hulle
wil nie. Met verootmoediging en sondebesef het hulle geoffer en teruggekom na die heilige teenwoordigheid
van God.
God het ons lief, en ons het God lief. God laat ons ook, soos vir Dawid, verstaan wanneer ons
teen sy wil bly optree.
God trek ook vir sy geliefde kinders grense. Ons moet nie dink dat ons maar die grense kan bly oortree
sonder vernietigende gevolge nie. Juis daarvoor moes Jesus kom sterf. Tot redding van die volk van God.
Ons elkeen wat in Hom glo en vir Hom leef!
Ernest