“Met oorgawe het Dawid voor die Here gedans
met net ‘n linneskouerkleed aan.” – 2 Sam. 6:14.
Die einste Dawid wat bang was voor die Here na die gebeure met die ark,
kon ook met jubelende blydskap dans voor die Here! God laat ons dikwels
sy heiligheid herontdek, en ons moet met eerbied en belydenis buig na ons
arrogansie om dinge te wil doen soos óns wil. Met die gebeure van die ark
het dit met Dawid gebeur. God roep ons dikwels tot besinning. Ons moet
dikwels herontdek wie God is, en wie ons is. God het ons lief en wil ons net
so vinnig seën as wat Hy ons tot orde en besinning roep.

Dawid het die boodskap gekry van die seëninge wat die ark vir Obed-Edom
meegebring het, dat selfs sy “besittings vermeerder” is, volgens vers 12.
God seën ons met meer as genoeg! Hy het Dawid ook ryk en beroemd gemaak
ten spyte van Dawid se foute, soos Salomo na hom, en Abraham lank voor hulle.

Rykdom en seëninge was nie Dawid se motief nie. Hy het skielik aangevoel dat
as daar seëninge is, die breuk met God oor die ark weer herstel is. En God doen
dit van sy kant af! Dawid juig oor die ark, die simbool van God se teenwoordigheid,
wat nou weer by hom is. Die Leviete het die ark gaan haal en gedra. Voor die ark
uit was daar ‘n uitbundige gejubel met offerhandes elke ses treë!
Skielik het hulle geweet dat uitbundige vreugde loop saam met respek en eerbied
voor die Here.

Dan bars ons uit in lof en dankbaarheid! Dawid het dit ook besef en dans voor die
ark uit met net ‘n skouerkleed aan. Dit was die kleed van die priester.
Die koning dans voor die simbool van God, die ark, uit!
Wat ‘n dag moes dit nie gewees het nie!
Wat ‘n dag kan vandag nie vir ons wees wanneer ons as koningskinders,
in dankbaarheid vir die seëninge van die Here, jubelend voor Hom uit dans
met bruisende lewe en vreugde in Jesus nie!

Ernest