“Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan;
jou troon sal altyd voortbestaan” – 2 Sam. 7:16.
Dit is die woorde van die profeet Natan aan Dawid nadat Dawid
dit in sy hart gekry het om ‘n tempel tot eer van die Here te bou.
Dawid voel skuldig omdat hy in ‘n nuwe paleis bly, terwyl daar nog
nie vir die Here ‘n huis gebou is nie. Die Here laat dit nie toe nie.
Dawid se seun Salomo sou die tempel bou.

Ons sien hierin dat daar ‘n verskil is tussen wat godsdienstige mense
vir God wil doen, en wat God wil hê. Ons kan nie net staatmaak op ons
godsdienstige “gevoel” nie. Ons moet soek na die leiding van God.

‘n Baie belangrike aspek van ons geloof word hier aangeraak.
Wat beteken “die huis van die Here”? Alhoewel ander gode tempels het
waarin hulle woon, maak God Hom tuis in die wel en wee van mense.
Hy het saam met die Israeliete getrek. Hy het Dawid agter die skape gaan haal.
Hy is by Dawid waar hy ookal gaan en ook in sy oorwinnings oor vyande.
God het nie ‘n rusplek of ‘n huis nodig nie. Hy gee aan Dawid rus! Dawid hoef
nie vir Hom ‘n huis te bou nie. Hy sal vir Dawid ‘n huis bou!
Volgens bogenoemde vers ‘n koningshuis, en ‘n koningskap wat vir altyd
vas sal staan! God sal aan Dawid ‘n besondere nageslag gee.
God is ‘n dinamiese God wat beheer het oor alles. Dawid hoef nie vir Hom
‘n huis te bou nie. Hy sorg vir Dawid! So ook met ons!

Ons sien in die Nuwe Testament hoe hierdie gedeelte ‘n nuwe betekenis kry!
In Handelinge 2:30 word hierdie gedeelte van toepassing gemaak op die Messias!
Jesus word nou gesien as die Seun van Dawid wat vir ewig op die troon sal sit!
In bogenoemde vers het Natan vir Dawid gesê “jou troon sal altyd voortbestaan.”
Ja, die koningshuis sou vervalle raak en deur diep waters gaan. Maar ‘n nasaat
van Dawid sou die ewige troon bestyg as redder van die nasies, Jesus Christus,
ons Heer en Koning! Sy koningskap sou eeue later in die Handelinge van die
apostels versprei word dwarsoor die aarde, en vandag, en tot in ewigheid
geproklameer word.

Toe Dawid Jerusalem binne gedans het voor die ark, sou hy nooit kon aanvoel
presies wie se voorvader hy sou wees nie...
Dat die Christus as sy nasaat sou kom: die eerste maal om sy kleim op die kroon
af te steek met sy bloed, en die tweede maal met die hemelse leërskare om sy
koningskap finaal tot in ewigheid oor alles te bevestig. Sou Dawid dié koningskap
ooit kon begryp en besing, dáároor kon dans!?
Besef ons aldag hoe bevoorreg ons is as kinders van die Here in óns tyd?
Dat ons wéét dat die Seun van Dawid tot in ewigheid heers waar die son
nooit ondergaan nie!

Dans met vreugde voor die Here!

Ernest