Dit is so ‘n bekende waarheid dat elke mens uniek is.
Die belangrike is om te besef dat God jou nie net uniek geskep het nie,
maar ook uniek sy koninkryk deur jou uitbrei in hierdie wêreld. Ons almal
is geskep na die beeld van God, maar verseker nie duplikate van ander
mense nie. Jy is ‘n unieke verteenwoordiger van God in die omgewing
en lewensruimtes waarin jy leef en beweeg.

Die Heilige Gees werk met elkeen van ons, en deur elkeen van ons op ‘n
unieke wyse. Heel persoonlik. Hy neem in ag wie en wat jý is. Daarom moet
jy nie daarna hunker dat die Gees in jou lewe presies net so moet werk soos
in ander gelowiges se lewe nie. Die Gees dupliseer nie! Die Heilige Gees se
werk is altyd oorspronklik en skeppend. Dit wat Hy in jou lewe doen en deur
jou lewe doen is ver bo wat jy dink of bid! Dit is wonder-lik! Dit is deel van
God se plan vir joú lewe! Dit geld in die besonder ook vir die gawes van die
Gees aan jou.
1 Kor. 12:7: “Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee
tot voordeel van almal.” Almal ontvang nie alles nie, maar niemand ontvang
niks nie!
Wees opgewonde en dankbaar oor wat jy ontvang het en wend dit doelbewus
aan tot uitbreiding van die koninkryk van God. In sy wysheid en genade wil die
Gees jou gebruik. Moenie daaroor twyfel nie. Hy wil! Jou gawes of gawe is niks
minder belangrik as enige iemand ander se gawe nie,
want die Gees werk daardeur.
Dikwels is juis die gawes wat die onopvallendste lyk,
wat die minste sensasioneel voorkom,
die belangrikste – 1 Kor. 12:22-23.

Dank die Gees van God, dat daar niemand anders soos jý is nie,
omdat daar niemand soos Hy is nie!
Dien dan met dankbaarheid in jou uniekheid.

Ernest