Alle gelowiges ontvang een of meer gawes van die Heilige Gees.
En, in elk geval, ontvang ons almal die beste gawe! Die liefde!
“God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees
wat Hy aan ons gegee het.” – Rom. 5:5. Geen gelowige is sonder
die Heilige Gees nie. Daarom is geen gelowige ook sonder die liefde
nie. Terwyl al die gawes wonderlik en belangrik is, is die liefde die
allerbeste – 1 Kor. 13:1. Sonder die liefde is al die ander gawes sonder
betekenis en baat dit ons niks – 1 Kor. 13:1-3. Die liefde is die “sement”
wat al die ander gawes in ‘n sinvolle eenheid bymekaar hou. Hierdie
eenheid is die liggaam van Jesus Christus – 1 Kor. 12:12.
Sonder liefde het ander gawes geen waarde of betekenis nie.

Ons moet opnuut besef watter potensiaal vir liefde in ons teenwoordig is.
Dit wat die wêreld die heel nodigste het, dit wat hierdie wêreld met sy haat
en onvrede weer ‘n leefbare plek kan maak, is in jou! Die liefde van God!
Hierdie liefde is anders as bloot menslike liefde. In die wêreld word baie
oor liefde gepraat, geskryf, gedig en gesing. Dalk te veel...dalk verloor die
liefde iets van sy waarde deur die “óórgebruik” van die woord...
Ongelukkig is ook dié (mensike) liefde aangetas deur die sonde. Dit het ons
so selfsugtig gemaak in ons liefde. Wanneer ons liefhet draai dit meestal net
om onsself. Ek het iemand lief omdat die persoon iets vir mý beteken. Ek wil
iets uit die verhouding kry. Die liefde moet vir mý waarde hê...

Die liefde wat die Gees in ons harte uitstort is anders. “Dit soek nie sy eie
belang nie.” – 1 Kor. 13:5. Dit is nie afhanklik van wat die ander persoon vir
my beteken, of wat ek uit die verhouding kan kry nie. Dit is nie gegrond op
die waarde van wat ek van ‘n ander kan “kry” nie. Dit is eerder ‘n liefde wat
net wil gee sonder om iets terug te verwag. Dit gee aan die ander groot waarde!

Dit kan ek net doen as ek oorweldig is deur die besef dat God my presies só
liefgehad het. Hy het aan my die grootste waarde gegéé! Die reg om sy geliefde
kind te kan wees. Kan ons dan anders as om so lief te hê, onselfsugtig lief te hê?
Die Heilige Gees maak dit verseker moontlik. Ons moet liefhê deur die Gees,
en nie om selfsugtige redes nie...

Ernest