1 Kor. 13:8: “Die liefde vergaan nooit nie.” Al die gawes wat die Gees
nou aan ons gee, sal eendag nie meer daar wees nie omdat dit dán nie
meer nodig sal wees nie. Die Bybel sê so. “Die gawe om God se boodskap
te verkondig, sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik,
sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.” – 1 Kor. 13:8.
Eendag sal dit nie meer nodig wees om God se boodskap aan mense te
verkondig nie, of God in ‘n vreemde taal aan te roep nie, of om kennis na te
jaag nie. Nou “ken ons maar gedeeltelik, en ons verkondig God se wil maar
gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal dit wat gedeeltelik is,
uitgedien wees.” – 1 Kor. 13:9-10.

Maar die liefde bly! Die liefde is die ewigheid, nou in aksie!
Die liefde vergaan nooit nie – 1 Kor. 13:8. Terwyl al die gawes soos blare
in die herfs van die boom val, bly die liefde immergroen en vol lewe.
Dit is die boom waaraan alles gedra word. Die liefde is die koord wat ons
bind aan die ewigheid. Dit beteken: As ek nóú liefhet met die liefde wat die
Gees gee, is ek reeds besig met dit wat ek in die ewigheid mee gaan besig wees,
volkome Goddelike liefde! Ek laat dan nou reeds iets van die ewigheid in die hede
deurbreek. Om lief te hê met die liefde wat die Heilige Gees gee is die sinvolste
aktiwiteit waarmee mens op aarde besig kan wees. Dit het ware ewigheidswaarde.
Dit is waarom alles gaan. Dit is waarvoor Jesus mens geword het en onder ons kom
woon het. Dit is waarvoor Hy gely en gesterf het. Uit die dood opgestaan en oorwin
het. Dit is waarom Hy deur die Gees in ons kom woon het.

Jy kan vandag besig wees met iets wat ewigheidswaarde het. Deur met die liefde
wat die Gees gee lief te hê. Dit word nie deur ouderdom of verganklikheid geraak nie.
Reik uit na iemand met die liefde wat die Gees gee. Betoon God se liefde.
Dit is waarvoor jy geskep is en hier is. Dit is die sin van jou bestaan.
Dit is die ewigheid...nou reeds!

Ernest