Om te sê ons bely in “die opstanding van die vlees” sê dat ons
werklik glo ons sal eendag liggaamlik opstaan. Dat ons dit kán en
mág bely is ‘n vrug van die handelinge van die drie-enige God in ons
belang. Die belydenis oor die opstanding van die vlees is in sekere sin
ook die samevatting van die Christelike geloof en ‘n kernagtige verwoording
van ons lewende hoop. Alles wat ons glo staan of val immers by hierdie
belydenis oor die opstanding van gelowiges, saam met Christus!

Die opstanding van die vlees is alleen moontlik omdat Jesus Christus uit die
dood opgestaan het. Die een kan nie van die ander losgemaak word nie.
Paulus sê duidelik in 1 Kor. 15:12-13: “As ons dan verkondig dat Christus
uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen
opstanding van die dooies is nie? As daar geen opstanding van die dooies is nie,
beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie.” Maar nou ís Christus opgewek!
Dit is die evangelie. Daarom sal óns opgewek word. Dit is óók die evangelie!
Kan jy die een glo en die ander nie? Nee! Die evangelie is die evangelie!

Sonder Jesus se opstanding sou ons hoop op ons opstanding ‘n illusie gewees het.
Paulus sê oorwinnend: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling
uit die wat gesterf het. Aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, het die
opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom. Net soos almal deur hulle
verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.”
– 1 Kor. 15:20-22.

Jesus is die eersteling uit die graf. Hy klief die dood oop. Bars deur die graf.
Sonder Hom sink ons terug in die aarde, stof tot stof vir ewig. Maar met en in
Christus staan ons op tot nuwe ewige lewe! Niks wat uit mense is kan dit moontlik
maak nie. Alleen die wat in Christus sterf, sal in Christus opstaan. Daar is ook ‘n
opstanding buite Christus, buite hierdie heerlikheid. Dit is die lot van hulle wat
buite Christus sterf. Ons kan nie hierdie harde en dringende woord sagter stel
sodat dit beter klink of nie “ontstellend” is nie. Dit staan ook daar, swart op wit.
Dit is ook evangelie. Lees maar 2 Tess. 1:7-9.

Die bedoeling van die evangelie is lewe! Die verskriklike moontlikheid, en feit,
dat daar mense is wat dit mis, is aan die mens toe te reken wat volhardend
ongehoorsaam teenoor God lewe. God wil dit nie. Hy wil dat ons lewe.
Maar daar is mense wat teen God kies, en teen ewige lewe kies...

Kies die lewe!

Ernest