Lewe lig en vry! Jy kan niks met jou saamneem wanneer jy
hierdie lewe verlaat nie. Job 1:21: “Sonder iets het ek in die
wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit.” Die dood stroop
ons van alles van hierdie wêreld. Selfs van ons liggaam. Dit verval
tot stof. Maar ons het niks nódig nie! Want ons gaan ‘n nuwe liggaam,
‘n opstandingsliggaam, ‘n verheerlikte liggaam, uit die hand van die Here
ontvang. Wie dit het, het alles! Want met dié liggaam gaan ons ewig by die
Here wees. Moet daarom nie krampagtig vasklou aan die dinge om jou nie.
Lewe lig en vry!

Die wyse waarop jy uit die graf gaan opstaan, word hoegenaamd nie bepaal
deur hoe jy in die graf ingaan nie... die wyse van jou opstanding word deur
slegs een ding bepaal: Jou verhouding met Jesus die Here. As jy met Hom in
die graf ingaan, word jy, al is jy hoe gering en swak in hierdie wêreld geag,
in heerlikheid en krag opgewek – 1 Kor. 15:43.

God het ons geskep en in Christus herskep. Hy weet presies wie en wat ons is.
Hy weet wat ons nodig het. God roep ons tot die lewe! Sy Naam staan op ons
voorkoppe – Openb. 22:4: “Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle
voorkoppe wees.”

Wat is die waarde van ‘n mens? Ons het in die Covid tyd ervaar hoe duisende
mense eenvoudig net sterf...! Mense luister nie eers meer na syfers nie.
Raak afgestomp oor net nóg meer mense wat sterf...en sterf. Mense dink...werklik,
‘n mens is nie veel werd nie.
Die evangelie, en in besonder ons geloofsbelydenis wat bely “ons glo aan die
opstanding van die vlees”, weerspreek die uitsiglose lewensgevoel dat die lewe
van ‘n mens waardeloos is. Die “opstanding van die vlees” bely dat elke mens vir
God waarde het! Hy los ons nie in die graf nie, maar wek ons op! Hy maak ons deel
van die grootste gebeure van die einde! Ons glo immers, sê Paulus in 1 Tess. 4:13-14:
“dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met
Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.”
Jy is vir God belangrik! Leef lig en vry! Saam met Hom.

Ernest