Ook ons as gelowiges ervaar van tyd tot tyd hartseer en rou-smart
as gevolg van geliefdes wat “aan die dood afgestaan word”. In sulke
omstandighede kan ons opreg trane stort. Die Here verstaan beter
as enige iemand anders ons hartseer. Dink aan Jesus wat by die graf
van Lasarus gehuil het. Tog is ons trane en hartseer nie as gevolg van
hooploosheid nie. Paulus troos ons dat ons nie “soos die ander
(ongelowiges)” oor die dood hoef te treur nie, nie soos mense sonder
hoop nie – 1 Tess. 4:13. Ons hartseer word beleef teen die horison
van hoop!

‘n Gelowige het by geleentheid gesê: “Ek gaan sterf en julle gaan in
die dorpskoerant daarvan lees. Ek sê vir julle: Moenie ‘n enkele woord
daarvan glo nie! Want as julle dit lees, sal ek lewend wees! Springlewendig!
In die Vader-huis by my Vader!”

Dood...en tog lewend! Want Jesus het belowe: “Ek is die opstanding en die lewe.
Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” – Joh. 11:25. Dalk gaan jou
sterwens-data ook in een of ander berig verskyn. Maar dit hoef nie nou jou lewe
te bepaal nie! Ons moet in ‘n sin óór die dood heen kyk, en deur die dood heen
kyk na en dink aan...die lewe!

Daar is baie belangriker data oor jou opgeteken en dit staan vas en waar vir ewig!
Dit is jou ewige-lewe-data! Dit is nie hier êrens opgeteken in ‘n register of koerant
nie. Maar dit is opgeteken en kan nie uitgevee word nie! “Ek het die dooies, groot
en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander
boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens
wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het.” – Op. 20:12.

Die data kan jy glo! Elke inskrywing daarvan. Elke woord. Die enigste vraag is:
Staan jou naam in die boek van die lewe?

Ernest