Die belydenis oor die “opstanding van die vlees” beklemtoon
opnuut dat die evangelie die dood oorwin het. By die eindoordeel
sal die triomf wat Christus reeds oor die dood behaal het, vir almal
sigbaar wees in sy volle konsekwensies. 1 Kor. 13:26 beklemtoon
“die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” In ons bedeling
bly die dood nog ‘n werklikheid, ‘n skynbaar finale werklikheid.
Ons almal moet dáárdeur. Die dood is soos ‘n geleide projektiel
op jou spoor: hy bly soek jou hitte om dit uit te doof. Jy weet dit is
een afspraak wat jy nie met die verskoning van ‘n vol program sal
kan uitstel, uitskakel of afstel nie. Die dood is dood-seker!

En tog is die dood verseker nie finaal nie! Die dood spreek nie die
laaste woord oor ons lewe nie. Die dood is aan Jesus onderwerp.
Hy spreek die laaste woord! As ons seker is van die dood, kan ons
nóg sekerder wees van die lewe! Die ware ewige lewe wat daar in
Christus is! In Hom het ons ewige lewensversekering. Maar dan ook
nét in Hom. Buite Hom is die dood. Daar is geen moontlikheid of
kompromie tussenin nie.

Ons hoor hierdie totale triomf oor die dood wanneer Paulus roem:
“Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons
oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle
gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit
die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, sodat God
ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is
deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het” – Ef. 2:5-7.

Moet daarom nie aan die dood ‘n plek in jou lewe gee nie. Nie eers ‘n
millimeter nie. Vul jou gedagtes, jou verwagtinge, jou dae...met lewe!
Ware lewe in die Here!

Ernest