p>“My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” – Johannes 5:17.
Jesus genees op die Sabbat ‘n man by die bad van Betesda. Hieroor,
het die Jode teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op die Sabbat
gedoen het. Maar Jesus het Hom teen hulle verweer en gesê
“My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hierdie antwoord
van Jesus maak die Jode woedend. Hulle vertolk sy woorde as ‘n
poging om Homself aan God gelyk te stel. Maar waarom?
Jesus sê dan bloot dat Hy soos sy Vader werk. Die Sabbat was
‘n dag van rus. Die Jode het egter besef dat God self nie op die
Sabbat rus nie. Alles wat God tipies doen vind nog steeds op die
Sabbat plaas, soos die son wat opkom en reën wat val, en kinders
wat gebore word. Die Jode het daaruit afgelei dat alleen God op
die Sabbat mag werk. As Jesus dus sê dat Hy soos die Vader werk,
beteken dit dat Hy doen wat God alleen mag doen. Daaruit lei die
Jode af dat Hy Hom aan God gelykstel. Daarom wil hulle Hom
doodmaak.

God werk van altyd af, en Jesus werk ook. Hulle hou steeds aan met
werk en sal daarmee aangaan tot in ewigheid. Dit is ‘n merkwaardige
uitspraak wat Jesus maak, dat God werk tot nou toe en dat Hy ook werk.
Dit plaas soveel klem op God se ewige werk. Dit is in teenstelling met
ons werk. Willebrord, ‘n ou bekende sendeling na Brittanje, het die
koning aangespreek wat geleef het asof hy vir altyd daar sou wees en
kan maak wat hy wil. Hy het die koning gewys op die ewigheid van lewe
en die tydelike van ons aardse bestaan. Hy het gesê: “U sit hier met u
raadsmanne in hierdie groot saal. ‘n Swaeltjie kom by een van die
vensters ingevlieg, fladder rond, en vlieg by ‘n ander venster uit.
Hy vlieg die ruimtes in, die ruimtes waaraan u uself nie steur nie,
terwyl u hier sit en eet en raad hou. Majesteit, dink hieraan: eintlik is
u niks meer as ‘n swaeltjie wat invlieg en gou weer verdwyn nie.
U vertoef maar ‘n baie klein tydjie hier met wat u doen, in terme
van die ewige ruimte daar buite...”

Die diepe en tydlose werk van die Vader en die Seun, en ook die
Heilige Gees, gaan in die ewige ruimtes in, van ewigheid af, tot in
ewigheid. Al wat Jesus oor dit alles sê is net: “My Vader werk tot
nou toe, en Ek werk.” Wat Jesus sê het ‘n oop einde...tot in ewigheid.
Willebrord se beeld van die swaeltjie laat ons dink oor ons eie lewe,
so kort, so verganklik. Hierdie lewe is slegs ‘n “groot saal” waarby
ons ingevlieg kom en weer uitvlieg. So was dit ook met die Jode by
Betesda, soos met die koning van Willebrord, wat wil beskik wat
gedoen word en wat nie. So is dit ook dikwels met ons,
in teenstelling met God.

Ernest