Jesus was op ‘n stadium baie populêr onder die mense.
Mense het oral van Hom gehoor en na Hom gestroom.
Onnadenkend bring hulle geen kos saam nie. Jesus merk op
dat die mense sonder kos is, want Jesus gee om. Jesus vra vir
sy dissipels wat hulle daaraan kan doen. Hy het geweet hulle
het geen idee nie, want Hy het reeds geweet wat Hý gaan doen!

Andreas kom met ‘n ietwat absurde “oplossing” van ‘n seuntjie
met vyf brode en twee vissies. ‘n Druppel in ‘n enorme emmer!
Dit is egter vir Jesus meer as genoeg, want God is die God van
meer as genoeg. Die skare moes gaan sit...
Jesus het presies geweet wat om vir hulle te doen, en Hy gaan
dit doen. Johannes 6:6 sê: “Hy het self goed geweet wat Hy gaan
doen.” Ons moet ook by die Here gaan sit om gevoed te word.
Nie net materieel nie, maar veral geestelik! Omdat Jesus presies
weet wat om vir jou te doen en Hy gaan dit doen wat Hy weet
die beste is vir jou. Gaan sit by Hom.

Hy het ‘n groot skare gevoed sodat daar mandjies kos oorgebly het.
Inderdaad ‘n “wonderteken” sê vers 14. So ‘n man, het die mense
geredeneer, moet ons koning wees...sodat Hy elke dag vir ons kos
kan gee! Ons sal net agter Hom aanloop en nooit hoef te werk om
kos op die tafel te sit nie. Ons stem: Maak Hom koning!
“Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil koning maak,
het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen” – Joh. 6:15.

Wat ‘n moeitelose lewe het die mense nie gesoek nadat hulle eenmaal
iets daarvan gesmaak het nie. Koning! Ter wille van óns! Hoe menslik is
dit nie. Ook ons verwag dat die Here elke klip uit ons pad moet rol dat
ons moeiteloos kan leef. Hy moet elke bord ook, vir óns, vol kos skep.
Hulle wou Jesus koning maak en volg ter wille van eie belang. Ons doen
dit ook so dikwels. Jesus is egter nie, met respek gesê, ons lyfbediende
met die titel van “koning” nie. Aan so ‘n houding onttrek Jesus Hom hier
in Joh. 6:15: “Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil koning maak,
het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen.” Let op: Hy alleen...
Mense doen dit vandag nog. En dan wonder ons soms hoekom
Hy so ver voel...so hoog op teen die berg...

Ernest