“Ek is die brood wat lewe gee.” – Joh. 6:35.
Na die groot ete en die storm op die see gebeure is daar
groot konsternasie in Kapernaum. Almal soek Jesus.
Almal peil uit die omstreke op Kapernaum af. Almal wil eet,
of die geheim leer van eet sonder om te werk. Hulle het selfs
die vermetelheid om ‘n teken te vra na alles wat reeds gebeur
het. Iets soos toe Moses vir hulle voorouers manna gegee het.
Dat Jesus kalm bly hieroor is ‘n verdere Goddelike wonder van
begrip vir menslike swakheid. Hy praat van die “brood wat God gee”
in vers 33, en dadelik wil die mense hierdie “brood van God” hê.
Elkeen wil daagliks sy maag vol kry: “Gee ons tog altyd hierdie brood”,
vers 34. Ons moet begrip hê. Hulle houding is nie so onverstaanbaar nie.
Nou nog dink sekere mense dat die evangelie eintlik gaan om die uitdeel
van kos aan hongeriges. Dit is maar iets, ‘n deeltjie van die evangelie.
“Ek is die brood wat lewe gee”, sê Jesus. Ek is die lewegewende Goddelike
beginsel. Ek stil die honger en die innerlike hunkering wat jy nie kan hanteer
nie. Of verstaan nie. Die diepste sin van lewe en bestaan.
Op ‘n ander plek sê Jesus dat ons beslis nie van brood alleen kan lewe nie.
Natuurlik! Maar die mens kan ook nie lank daarsonder nie. Om te eet is ‘n
basiese erkenning van ons afhanklikheid, van voedsel en van mekaar en bo
alles van God. “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dit herinner ons ook
dat in ons ‘n ander soort leegheid ontstaan, ‘n intense verlange, ‘n geweldige
behoefte, ‘n soeke wat die beste menslike spyskaart nie kan bevredig nie!
Dit is die leegheid en soeke na God. Na sin. Na begrip. Na oneindig meer as
wat in die yskas of in die bank is.
Daardie honger kan Ek bevredig, sê Jesus. Ek is “brood” vir die hunkering en
leegheid anderkant liggaamlike behoeftes. Ek gee julle die enigste ware lewe.
Wie in My glo sal nooit weer honger kry nie. En as innerlike honger knaag,
gaan soek ons na ewige Brood, Jesus Christus, op ons knieë. Want geseënd is
die van ons wat weet hoé afhanklik ons van God is...
Ernest