“En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Dit het Jesus gesê
toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.”
– Joh. 6:51 en 59.
Brood moet gesny word of in stukke opgebreek word om geëet
te word. Dit moet gekou word, gesluk word, verteer word, deel
van jou liggaam word, as’t ware. Dus: Brood moet “sterwe”,
sodat dit kan lewe gee.
Wanneer Jesus hierdie treffende metafoor gebruik om na Homself
te verwys, beteken dit net mooi dit: Hy sou soos brood gebreek word,
gesny, gekou, en ingesluk word deur die graf, om uiteindelik lewe te gee!
Met dié verskil: Die dood het Hom ingesluk, maar nie “verteer” nie.
In daardie opsig is hemelse brood anders as aardse brood:
die lewensbeginsel bly altyd behoue. Die hart kan ophou klop en die bloed
kan stol, maar die Goddelike kan nie sterf nie. Dit is soos kernenergie uit die
ewigheid. Dit brand nie uit nie. Dit bly krag verskaf. Dit is onvernietigbaar.
Dit “voed” meer as hierdie bedeling. Dit voed die ewige bedeling. Dit is die
bedeling waaruit die Brood kom, en waarheen ons op pad is, ons wat hierdie
“Brood” eet. “Ek is die brood wat lewe gee.” – Joh. 6:35.
“Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.”
En wat ‘n diepsinnige lering was dit nie! Dit blyk dat die meeste mense wat
Jesus daardie dag gehoor het, nie die vaagste benul gehad het van wat Hy gesê
het nie. Hulle behoeftes was dié dag se behoeftes. Net dit: Brood wat soos manna
uit die hemel val en wat hulle kan skep en eet. Vandag nog wil mense net
“skep en eet”.
Jesus sê dat Hy uit die hemel kom. Hy sorg óók vir daaglikse brood. Maar Hy het
gekom om gebreek te word soos brood, en gesluk te word met jou hele lewe,
om die diepste soeke en honger te stil. Dit is sy teenwoordigheid, soos op die
stormsee as ons bang is, sy hulp as ons honger is, sy nabyheid as ons soekend
en alleen is tussen mense, sy troos as ons stukkend is, sy leiding van ons na die
ewige stad...ons nuwe woonplek.
Ernest