Die dissipels was in ‘n skuit op pad na Kapernaum toe.
In die donker. In ‘n storm. Al die bestanddele om in ‘n situasie
te wees waar ons bang raak. Jesus was nog weg, teen die berg uit,
na die voeding van die mense met die wonder van die vyf brode en
twee vissies. ‘n Paar kilometer van die land af het hulle skielik Iemand
op die stormwaters sien loop. En natuurlik het hulle nog meer bang
geword. Toe roep Jesus oor die geweld van die storm:
“Dit is Ek, moenie bang wees nie.” – Joh. 6:20.
Kan dit wees? Baie mense vra vrae daaroor. Kan dit wees dat ‘n Man
duisende voed met behulp van ‘n klein porsie kos, dan bergop pad gee
van die skare af, en daarna in die donker in ‘n storm na die skuit van sy
dissipels loop? Dit klink vir mense na ‘n storie, onrealisties, onmoontlik.
En tog, as Hy was wie Hy gesê het Hy is, as die volheid van God in Hom
was, as Hy enige iemand se Verlosser wil wees, sou jy verwag dat vir Hom
kinderspeletjies is. Om voedsel te vermeerder of op water te loop, sou vir
Hom eenvoudig wees.
Wat ons ‘n “wonder” noem, is eintlik vir God die “normale”. Meer nog:
die beginsel lê reeds in die skepping opgesluit. Ons het dit nog net nie
ontdek en/of bemeester nie. Sou Jan van Riebeeck byvoorbeeld geglo het
dat die moeisame tog van Europa na die Kaap, wat hy in meer as ses maande
met drie skepies aangepak het, ‘n bietjie meer as drie eeue later met ‘n
“ysterskip”, wat deur die lug vlieg, in net meer as tien ure afgelê kon word?!
Die wonders van Jesus wys vir ons die moontlike. Dikwels skuil die wonders
van God in die alledaagse: die liefde van ‘n kind, die sorg van ‘n ouer.
Ons soek wonders in die “bonatuurlike”. Jesus het nie op die stormwaters
geloop om towenaar te speel nie. Hy het na sy mense toe geloop wat gesukkel
het om te oorleef in die storm. Wat bang was. Hy kón, en hét hulle kalmeer.
Hy kom ook só na ons toe in ons eie donker storms. En, luister, Hy sê:
“Dit is Ek, moenie bang wees nie.”
Ernest