“Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe
en nie meer saam met Hom gegaan nie.” – Joh. 6:66.
Dit is heel menslik om van opinie te verander. Dit is menslik
om om te draai. Dit is menslik om ‘n leier te verlaat. Dit is menslik
om ‘n ideaal te laat vaar. ‘n Bekende persoon vertel in sy outobiografie
van baie vriende in sy gloriedae “who only stayed for the ride.”
Toe dinge teen hom draai en opoffering gevra word, het hulle hom
verlaat en gemaak asof hulle eintlik nooit “saam” was nie.
Jesus sien hoe baie van sy volgelinge dit wat Hy sê nie juis wil verstaan
of aanvaar nie. Hulle het met groot verwagtings op Hom toegesak in
Kapernaum. Maar nou vind hulle wat Hy sê “darem te erg”, vers 60.
Buitendien hou dit geen materiële voordeel of belofte vir húlle in nie.
Hulle was ook daar “only for the ride”. Hulle het saamgedoen en saam
gedrom vir mandjies vol brood, maar toe Jesus se leer nie meer by hulle
verwagtings ingepas het nie, het hulle “omgedraai huis toe en nie meer
saam met Hom gegaan nie.”
Dit gebeur nou nog. Mense sluit met vurige entoesiasme aan. By die kerk.
By bewegings vir evangelisasie. By barmhartigheidswerk. By kursusse en
seminare. Hulle wil dinge doen. Hulle het groot planne. En wanneer die “ride”
stamperig raak as gevolg van die teenstand van die wêreld, of ‘n gebrek aan
eie voordeel, dan draai hulle om en gaan huis toe. Ons is te selfgerig, of ons
het nie geestelike uithouvermoë nie, of ons wil in eie krag op ons eie teiken rig,
of ons het verskuilde agendas, of ons glo nie genoeg nie, of ons het nie die
geestelike oë om die onsienlike te sien nie. Ons draai om, en gaan huis toe,
na die lewe soos ons dit wil hê en gemaklik vind. Dit laat ons dink aan die
woorde van Jesus oor dissipelskap: Neem jou kruis op en volg My.
Jesus sien dit vir wat dit is. Hy het nie die gewese volgelinge agterna-gehardloop
nie. Hy het hulle laat gaan. Hiervandaan sou die pad net nog steiler word om Jesus
te volg. En wanneer die pad vir ons wat Hom bly volg baie steil word, sal Hy help
en verstaan. Hy het immers die pad van selfopoffering absoluut enduit geloop,
vir ons...
Ernest